Llowellyn Syce
Llowellyn Syce (voor) en sy vyf leerders in die agtergrond voor die afskop van die Cape Cycle- fietstoer.

Die hoof van die Breedevallei Vaardigheidskool in Rawsonville het in trane uitgebars toe een van sy leerders sy (die leerder se) silwermedalje aan hom oorhandig het nadat hy (die skoolhoof) in ’n val tydens die Cape Town Cycle Tour wat op 8 Maart plaasgevind, sy linkerheup gebreek het.

Llowellyn Syce vertel aan Standard Breederivier Gazette dat hy en die vyf leerders die afgelope ses maande hard aan die oefen was ter voorbereiding vir dié gesogte fietstoer.

Volgens Syce was hy en sy leerders deel van ’n groot groep fietsryers wat die langste roete van 109km aangedurf het.

“Ons het pas op die M3 geklim toe blaas die fluitjie wat ’n aanduiding is dat iets gebeur het. My vyf leerders het agter my gery.

“Ek het onmiddellik briek getrap sodat ek nie in die fietsryer voor my vasry nie.

“Ek kon nie my cleads wat aan die pedale vas was betyds loskry nie.

“Ek het toe van die fiets af geval en op my linkerheup op die padoppervlak beland. My boud het lam gevoel.

“Ek kon myself nie van die grond af op kry nie. In daardie stadium was daar meer as 1 000 fietsryers wat agter my aangery gekom het.”

Volgens Syce het sy vyf dapper leerders onmiddellik by hom stilgehou.

Hy vertel dat die seuns net daar saamgespan en hom opgetel het om pad te maak vir die ander fietsryers.

“Ek onthou hoe ek oor ’n brug geleun het. “Dit het gevoel of my linkerbeen sweef. Ek het naar begin voel van die pyn.”

Volgens Syce wou die seuns by hom waak. Hy sê hulle het aanvanklik geprotesteer toe hy vir hulle sê om die fietstoer te voltooi omdat hulle lank daarvoor geoefen het.

Die kinders het gehoor gegee aan hul hoof se opdrag en die fietstoer voltooi.

Volgens Syce was ER24 blitsvinnig op die ongelukstoneel.

Hy sê paramedici kon onmiddellik vasstel dat iets in sy liggaam gebreek is.

Syce sê die paramedici het sy sy met ’n laken verbind en met hom na die Netcare Christiaan Barnard Gedenkhospitaal gehaas.

Hy sê X-strale het bevestig sy linkerheup is gebreek.

Syce vertel dat hy kort hierna na die Medi-Clinic Cape Gate Hospitaal oorgeplaas is.

Volgens hom het hy Maandag (9 Maart) ’n drie-uur lange heupvervangings-operasie ondergaan.

Hy vertel dat twee kollegas die bekommerde seuns tot by die hospitaal vergesel het sodat hulle (die seuns) met hul eie oë kan sien hy doen goed.

Llowellyn Syce
Drie van die jong fietsryers langs hul skoolhoof, Llowellyn Syce, se hospitaalbed. Die kinders is (van links) Christiano Joseph, Lyle Francke en Wildren van der Westhuizen.

“Ek was in trane toe een van die seuns sy [silwer] medalje aan my oorhandig en aan my sê ‘in ons oë het meneer die fietstoer voltooi, al was dit nie die geval nie’.”

Volgens Syce is hy op 11 Maart – op sy 57ste verjaardag – uit die hospitaal ontslaan.

Hy sê hy wil volgende week by die skool gaan inloer net om vir almal te wys hy vorder goed.

Volgens Syce is hy op 21 April weer amptelik terug op sy pos, Hy sê die seuns het berading ontvang.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, sê: “Die feit dat die leerders die fietsren kon voortsit en voltooi, en hul skoolhoof daarna kon vier, spreek boekdele van die manier waarop ons skole leerders met moed en vriendelikheid koester.

“Ons wens mnr. Syce ’n spoedige herstel toe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article