Hexvallei Sekondêre Skool se biblioteekrakke is verlede week deur prof. Jonathan Jansen aangevul.
Die skool was een van vyf hoërskole wat by Jansen se projek baat gevind het.
“Toe ek ’n ruk gelede by die skool was, het ek opgelet daar was ’n hele paar oop plekke op die rakke in die biblioteek. Ek het toe ’n beroep op sosiale media uitgesit om vir boeke te vra. Die terugvoering was merkwaardig,” het Jansen in sy toespraak by die oorhandiging van die boeke gesê.
Die boeke is op ’n oggendtee by die skool aan die skool oorhandig.
Voorts sê hy in sy toespraak: “As jy kan lees, word die wêreld vir jou oopgemaak. Dit is belangrik dat kinders die geleentheid gebied word om te lees om sodoende die wêreld te verken. Lees help ook om hul selfvertroue op te bou. En lees skep die momentum vir veranderings.”
Professor Jansen het ook gepraat oor lees as ’n katalisator om jongelinge se drome te verwesenlik.
Die skool se hoof, Arnold Mei, het die professor vir die skenking van boeke bedank, asook die biblioteek se komitee.
“As biblioteekkomitee is ons ongelooflik baie dankbaar vir die fenomenale reis wat ons skool saam met professor Jansen aanpak en dit is vir elkeen van ons as komiteelede sowel as die ander rolspelers by die skool ’n aangename ervaring.
“Ons is verheug oor die boeke, so ook ons leerders. Ons skool is bevoorreg om professor Jansen en sy span as deel van ons Hexvallei Sekondêr-familie te hê. Die bydrae en ondersteuning is noodsaaklik vir ons visie en missie by die skool. Ons waardeer dus die belangstelling en poging om ons leerders te laat floreer,” het een van die komiteelede, Manise Sibiya, gesê.




