Roodewal Primêr het onlangs ‘n ongewone helper gehad om hul droom van ‘n groentetuin woema te gee.
Buti Green, die verkleurmannetjie-gelukbringer, het as deel van Old Mutual se bydrae vir die 67 minute van welwillendheid vir Mandeladag, ‘n groentetuin in Neethlingstraat vir die laerskool uitgelê en geskenk.
Die kinders het op dié prettige manier meer geleer oor tuinmaak en groenteverbouing.
Die groente wat hierdie groentetuin gaan oplewer, sal in die skoolkombuis vir die skoolkinders se etes gebruik word.
Die kollig het op Roodewal Primêr geval nadat die bekende gemeenskapswerker van Roodewal, Erna Victor, vroeër vanjaar met die Old Mutual- Breedevallei-Legendes-toekenning vereer is, wat in samewerking met Standard & Breedevallei Gazette aangebied is.
Victor het Old Mutual se aandag op die groot behoefte aan ‘n groentetuin by die skool gevestig. Hulle het die hulp van die Green Development Foundation ingeroep om ‘n groentetuin van 6m by 20m uit te lê.
Dit het baie werk en voorbereiding geverg. ‘n Watertenk en -pomp is ook aangebring en ‘n kragpunt is aangelê. Tien netjiese beddings is uitgelê en met kompos bemes, waarna besproeiing aangelê is.
Daarna het die span tesame met Buti Green begin om beet, blomkool, bone, botterskorsies, groensoetrissies, kool, pietersielie, spinasie, tamaties, uie en wortels te plant.
‘n Deel van die skenking was nuttige toerusting om die jonges aan te moedig om te help – gieters, grawe, harke en tuinslange.
Die raadslid dr. Julian Kritzinger het gesê Ou Mutual kon nie ‘n beter skool vir die projek gekies het nie.
“As almal nou mooi gaan saamwerk, sal nog baie voedsame etes in die skoolkombuis vir al die maatjies gekook kan word – met die groente uit die tuin.”




