Die Hoërskool Breërivier-gemeenskap en Worcester is in rou gedompel nadat hulle twee geliefde personeellede kort na mekaar aan die dood afgestaan het.
Medelye oor die heengaan van Karen Neethling en Moos Jacobs het op die Hoërskool Breërivier se Facebook-blad ingestroom.
Neethling, wat sedert 1998 by die skool as sekretaresse gewerk het, is voorverlede Saterdagaand oorlede.
“Sy was liefdevol en het ’n hart van goud gehad,” het haar man, Amadeus Neethling, aan Standard gesê.
Die Neethling-egpaar was 31 jaar getroud en het twee kinders, Dean en Kelly Neethling. Kelly is ’n onderwyseres by die skool. “Dit gaan uiters moeilik wees vir Kelly om sonder haar ma terug te keer skool toe.”
Amadeus beskryf Karen as iemand wat liefdevol en pligsgetrou, maar streng was.
“Ons het alles saam gedoen en ek gaan baie na ons saamwees verlang. Ons het min gestry,” voeg hy by.
Haar omgee, ondersteuning en die respek wat sy vir haar medemens gehad het, is ook eienskappe van Karen wat deur baie mense onthou sal word.
“Sy het vir haar kinders gelewe, maar nie net haar eie kinders nie – sy was ’n ma vir almal.”
Die Hoërskool Breërivier het verlede week ’n gedenkdiens gehou en Karen is Saterdag ter ruste gelê.
“My innige meegevoel aan die Neethling- en Breë-families met die heengaan van me. Neethling. Sy was ’n goeie mens en ’n ware mensemens. Sy sal voorwaar gemis word. Rus in vrede, Karen Neethling,” het Jean Pierre Long geskryf.
“RIV, Karen; kan nie glo jy’s weg nie. Ek sal jou vriendelikheid altyd onthou. Sterkte aan die Breë-familie,” skryf Marilyn Jantjies.
“Sag rus, juffrou, en baie sterkte aan ons skool en juffrou se familie. Ons gaan juffrou baie mis by die skool. Juffrou se inloer by die skool was vir ons ’n plesier. God het van beter geweet; rus sag in God se arms,” skryf YK Isaacs.
Jacobs was verbonde aan die skool se geografiedepartement. Sy dogter Shannilee Jacobs het aan Standard vertel haar pa was baie streng tog liefdevol.
“Hy was passievol oor onderwys en sport en was ’n omgeemens.”
Jacobs het by De Kruine Sekondêr, Hexpark Primêr, waar hy onderhoof was, en Hoerskool Breërivier skoolgehou.
Jacobs word oorleef deur sy vrou Marinda, twee kinders Shannilee en Garth en ook sy kleindogter Chloe.
“Wat dit nog moeiliker maak, is die feit dat ons eers dié Sondag uitgevind het dat hy aan ’n kroniese longsiekte gely het.
“Hy het alleen die pyn en lyding deurgemaak. Hy was ’n uitstaande sportman – Boland-skole, WP-kolleges, aanvangsbouler en ’n uitstekende onderwyser. Mag God u familie bystaan tydens hierdie tyd van beproewing,” het Hartnick Anton oor dié geliefde onderwyser geskryf.
“RIV mnr. Jacobs. ’n Onderwyser duisend. Hy kon jou so vermaan en tug, maar dit was die moeite werd. Ek en my skoolmaats salute jou, meneer. Tot ons weer ontmoet,” skryf Erika Visser.
“My innige simpatie en meegevoel aan mnr. Jacobs se familie en die Hoërskool Breërivier. Rus in vrede, mnr. Jacobs,” skryf Freek Louw.





