Die Universiteit Stellenbosch (US) se Wingerd- en Wynkunde Winterskoolprogram was propvol leergeleenthede en inspirasie gepak en het ’n blywende indruk op 22 gr. 11-leerders uit verskeie provinsies, sowel as ’n handjievol US-studente, gelaat.
Die drie dae lange program wat deur die fakulteit AgriWetenskappe en die departement Wingerd- en Wynkunde aan die US gereël is, is in vennootskap met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DLGLO), die Kaapse Wynmakersgilde (KWG), en die Elsenburg landbou-opleidingsinstituut aangebied.
Hierdie transformerende reis het die skoliere en studente na wynplase in die Stellenbosch-distrik geneem, en vir ’n unieke ervaring en ’n dieper insig in die boeiende wêreld van die druiwe- en wynwetenskappe gesorg.
Die gekose deelnemers was van die Hoërskool Nkomazi, die Ermelo gekombineerde skool, Guduza Sekondêre Skool en die Warburton gekombineerde skool, asook Wem gekombineerde skool in Mpumalanga, die Tsoseletso Sekondêre Skool in die Vrystaat, en studente van die SciMathUS-program aan die US.
Die leerders en studente is na verskeie wynplase begelei, waar hulle die geleentheid gehad het om met kundiges in die bedryf te skakel.
Hulle het ook die voorreg gehad om ’n driedaagse besoek te bring aan die streek se bekendste wynplase, onder andere Vredenheim, Lievland, Babylonstoren, The House of JC Le Roux en die Alto Wynlandgoed. Te midde van die welige wingerde en moderne kelders kon die jong deelnemers die kuns en presisie waarneem wat met die wynproduksie gepaard gaan.
Bedryfskenners het as gidse opgetree en hulle reis, kennis en kundigheid gedeel, wat die skoliere en studente se ervaring verryk het.
Kgalalelo Modiakgotla, ’n SciMathUS-student, het haar opgewondenheid oor die program gedeel.
“As ’n SciMathUS-student het ek hierdie program baie geniet. Die program was nie net pret nie, maar ook leersaam. Ek het soveel geleer oor die verbouing van druiwe in die wingerde en van die wynmaakproses, wat vir my baie interessant was.”
Michelle Makwela, ’n gr. 11-leerder van die Wem gekombineerde skool het gesê die program was vir haar “ ’n aangename verrassing”.
“Ek het nog nooit voorheen van wingerd- en wynkunde gehoor nie. Die tyd om te kon leer in die wingerde en wynkelders het my oë oopgemaak.”
Met hierdie praktiese benadering word ’n begrip van die wynbedryf aangemoedig, en die interaktiewe sessies het hul nuuskierigheid aangewakker en waardevolle insigte oor ’n loopbaan in die druiwe- en wynbedryf gebied.
“Die doel van hierdie program was om hul passie vir die druiwe- en wynwetenskappe aan te wakker en hulle in staat te stel om die loopbaangeleenthede en graadstudie in die veld raak te sien,” volgens Maret du Toit, professor en visedekaan van die fakulteit AgriWetenskappe en dosent in wynkunde aan die US.
Dié jaarlikse Wingerd- en Wynkunde Winterskoolprogram word sedert 2019 aangebied.


