Die kaping en moord van ’n leraar van Ceres het die naweek skokgolwe deur die streek gestuur.

Herman Nieuwoundt (59) is volgens inligting Vrydag (5 Mei) naby ’n supermark in die dorp gekaap. Sy lyk is die volgende dag langs die R43-pad, die pad tussen Worcester en Ceres, gevind.

Die leraar se bakkie is in die De Wet-omgewing gevind.

Die polisie het kort daarna twee 19-jarige verdagtes in hegtenis geneem.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die slagoffer sy woning in Ceres Vrydag tussen 17:00 en 18:00 op die aand van die tragedie verlaat om kruideniersware by ’n winkel in die dorp te gaan koop.

“Hy het nooit teruggekeer huis toe nie. Hy het ’n wit Toyota Hilux-bakkie bestuur. Lede van die Worcester-polisie is Saterdag 6 Mei om 08:30 by die Wolseley Ceres pad +/-1km buite Worcester deur iemand voorgekeer oor ’n lyk wat hy in die bosse gesien het,” verduidelik Jacobs.

Die verbyganger het toe die lyk aan die polisie gaan uitwys.

“Toe die polisie by die lyk aankom, het hulle ook op ’n sak kruideniersware saam met ’n strokie van die plaaslike kettingwinkel afgekom. Die Ceres-polisie het verder ondersoek ingestel. Dit het hulle na die vrou van die slagoffer gelei, wat bevestig het haar man is die vorige dag daar weg en het nooit terug huis toe gekom nie.”

Jacobs het gesê Nieuwoudt is met talle beserings aan sy lyf gevind, insluitend steekwonde aan die rug en nek. Sy aanvallers het hom in ’n klein riviertjie gelos.

Die oorledene se bakkie is later op ’n plaas in die De Wet-omgewing gevind.

“Die voertuig is met die hulp van die Breedevallei-plaaswag op die Eureka-plaas gevind. Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met drie aanklagte – een van moord en twee van die diefstal van ’n motorvoertuig en die besit van ’n gesteelde voertuig.”

Nieuwoudt se suster, Wilma Groenewald, het die volgende boodskap op haar Facebook-blad gedeel: “My liewe boetie, jy is op ’n wrede manier van ons af weggeneem. Tog laat jy ons met onskatbare herinneringe. Jy het jou alles vir mense gegee – letterlik en figuurlik. Jou opdrag as dominee maar ook jou liefdestaak aan jou familie en vriende het jy ten volle uitgeleef. Jy het by almal ’n blywende gedagte gelaat. Ons eer jou nalatenskap en sal mooi na Martha, Adriaan en Hendrik kyk. Ons weet jy was baie lief vir hulle. Lekker tuinmaak daarbo en moenie vergeet om jou sangstem en fluitery te laat hoor van daar bo af nie, nè? Here, dankie dat ek kan weet my boetie se siel rus veilig by U. Dit bring troos in hierdie moeilike tyd. Aan U kom toe die Eer en Heerlikheid tot in alle Ewigheid. Amen.”

Nieuwoudt was betrokke by die Patmos-plaaswerksersbedienning in Ceres.

Die familie het in Citrusdal gewoon voordat hulle na Ceres verhuis het.

Standard het na Groenewald asook Nieuwodt se seun, die akteur Hendrik Nieuwoudt, uitgereik, maar het nog nie terugvoer ontvang nie.

Die DA in die Witzenberg het ook sy medelye met die heengaan van Nieuwoudt betuig. Wendy Kaizer-Philander, die DA se kiesafdelingshoof vir Witzenberg, het die volgende in ’n mediaverklaring gesê: “Die DA in Witzenberg deel ons innige simpatie en meegevoel met die Nieuwoudt-gesin en uitgebreide familie met die tragiese heengaan van die geliefde ds. Herman Nieuwoudt. Ds. Herman, wat geestelike werk op plase in die streek gedoen het, was betrokke by die Patmos-plaaswerkersbediening in die Kouebokkeveld. Vir iemand wat siele gevoed het, is dit hartseer en ontstellend om te verneem van die tragiese wyse van ds. Nieuwoudt se sterfte. Ons bid die familie, asook ds. Herman se bediening, sterkte toe in hierdie moeilike tyd.”

Die twee verdagtes het Dinsdag 9 Mei in die Worcester-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article