Wat vir ’n polisiebeampte veronderstel was om ’n daad van selfverdediging te wees, het nou in ’n saak van poging tot moord ontaard.
Dit volg nadat ’n naweek van bendegeweld onlangs in Vinkstraat, Avianpark uitgebreek het.
Volgens die polisie is ’n saak van poging tot moord by die Worcester-polisie aangemeld nadat twee vermeende bendelede deur ’n polisiebeampte wat van diens was, geskiet is.
Familielede van dié vermeende bendelede is ontsteld omdat hulle kinders in die skietery gewond is.
“Daar was ’n heen en weer klipgooiery en ek het hout in ons erf gesaag. Ek het vir my vriende gaan sê hulle moet end kry,” vertel een van die mans wat geskiet is.
Hy het die saag saam met hom geneem “om vrede te maak,” vertel hy.
“Die polisieman het die saag in my hand gesien en die vuurwapen op my gerig en begin skiet”. Die twee slagoffers van 24 en 12 jaar oud is in die been, hand en skouer gewond.
AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, sê die polisiebeampte word van poging tot moord aangekla. Oor die plig van polisiebeamptes wat nie aan diens is nie, sê Jacobs: “ ’n Polisiebeampte van diens af plaas homself aan diens wanneer hy sien dat daar gevaar in die gemeenskap is.”
Jacobs het ook genoem dat elke burger van Suid-Afrika die reg het om homself te verdedig wanneer hulle in ’n gevaarlike situasie is. Die saak is aan die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) vir verdere ondersoek oorhandig. Die beampte het nog nie in die hof verskyn nie.


