Die Worcester-polisie ondersoek ’n saak van moord en poging tot moord.

Die polisie is Dinsdag 4 April ná ’n skietery in Katlagterstraat in Avian Park na die toneel ontbied.

“Met hul aankoms op die toneel het die polisie een oorledene en een slagoffer met ’n skietwond aangetref. Die twee is in ’n informele struktuur in ’n agterplaas van ’n huis geskiet,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Volgens haar het ’n ooggetuie gesê die twee slagoffers het hom gejaag en dis hoe hulle in die struktuur beland het.

“Volgens inligting wat op die toneel ontvang is, het die twee verdagtes een van die getuies in Katlagterstraat net voor beurtkrag gejaag. Die rede hiervoor is onbekend. Die getuie het by ’n informele struktuur in Katlagterstraat ingehardloop, waar die oorledene en die ander slagoffer gesit het. Die ooggetuie het vir hom in die struktuur weggekruip, en die verdagtes het agter hom by die struktuur ingehardloop.

“Die volgende oomblik is drie skote afgevuur en die twee onbekende verdagtes het toe uit die struktuur in die rigting van Mockingbirdstraat gehardloop,” verduidelik Jacobs.

Die oorledene is op ’n rusbank aangetref terwyl die ander slagoffer op ’n bed in die struktuur gekry is.

“Die oorledene is gevind waar hy op ’n rusbank in die struktuur gesit het met een skietwond in die middel van die bors en een skietwond in die regterskouer. Die ander slagoffer is op ’n bed gekry met een skietwond in die regterkant van die bors.

Die oorledene is op die toneel dood, en die slagoffer is na die Worcester-hospitaal geneem,” het AO Jacobs verduidelik.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van moord en poging tot moord.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article