Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBD) vier voortdurend sy bloedskenkers as die onbesonge helde. Met Julie se tema, Nie alle helde is Superhelde nie, wil dié diens beklemtoon dat enigiemand, ongeag hul agtergrond of beroep, ’n held kan wees deur ’n bloedskenker te word.

Die WKBD ervaar egter tans die uitwerking van die winterseisoen en skoolvakansies, aangesien groep O negatief onder druk is, met slegs drie dae se voorraad oor.

Bloedskenkproses:

Om bloed te skenk, neem gewoonlik nie meer as 30 minute nie. Skenkers moet ’n vertroulike skenker-vraelys voltooi voordat hulle skenk. Hul besonderhede word op die WKBD-stelsel vasgelê of geverifieer en ’n vingerpriktoets word gedoen om hul hemoglobienvlakke na te gaan. Vir vroue moet dit 12,5g/dF wees en vir mans 13,5g/dF. Hierna word ’n mediese keuring deur ’n professionele verpleegkundige gedoen, en elke skenker se bloeddruk en polsslag word nagegaan. Skenkers neem dan hul bloedsak en gaan na die skenkersbed, waar hulle ’n eenheid lewensreddende bloed skenk. Ná die skenking word skenkers aangemoedig om ’n rukkie te sit en ’n bietjie sap en koekies (op WKBD se koste) te geniet.

Vereistes om bloed te skenk:

. Jy moet tussen 16 en 75 jaar wees;

. 50 kg of meer weeg;

. In goeie algemene gesondheid wees; en

. ’n Veilige seksuele leefstyl handhaaf.

Skenkers word aangeraai om ’n maaltyd binne drie tot vier uur voordat hulle ’n kliniek besoek, te eet en hul vloeistofinname voor, tydens en ná skenking te verhoog.

Skenkers wat ’n eenheid bloed in Julie skenk, sal ’n paar WKBD-held-geïnspireerde sokkies ontvang.

. Besoek www.wcbs.org.za vir meer inligting of om jou naaste kliniek te vind. Laai ook die WKBD-toep af of stuur ’n WhatsApp na 060 549 7244.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article