Herstelwerk aan die sinkgat by die aansluiting van Voortrekkerweg en Reitzstraat in Robertson is voltooi en die verkeer vloei weer normaal.

Die sinkgat het op 17 Julie gevorm en die werk om die pype te herstel en die groot gat weer te vul, is voorverlede Vrydag (15 Augustus) voltooi.

Geen teken van die groot sinkgat wat verkeer in Robertson vir weke belemmer het nie. Van links is die raadslid Johan Coetzee (portefeuljekomitee vir ingenieursdienste), Schalk van Eeden (die burgemeester), Daniël Lubbe (die munisipale bestuurder) en Deon Louwrens (die direkteur van ingenieursdienste).

LEES MEER: Verkeer herlei na reuse-sinkgat in Robertson ontstaan

‘n Ondersoek deur WEC-Consult, in samewerking met die Langeberg-munisipaliteit, het bevestig dat die geleidelike strukturele verswakking van ‘n ou riool- pyp uit beton onder die pad die oorsaak was.

Die bevinding was dat aggresiewe rioolgasse die binneste betonlaag van die pyp verweer het, wat veroorsaak het dat die staalversterking in die pyp verswak het. Die verwering het die pyp se struktuur verswak, wat uiteindelik onder die gewig van die grond bo dit en die verkeer meegegee het. Op sy beurt het die stukkende pyp veroorsaak dat die sand wat om dit was, in die rioolstelsel gespoel is en ‘n ondergrondse leemte vorm. Mettertyd kon dié leemte nie meer die gewig van die verkeer dra nie en die sinkgat het skielik gevorm.

“Die oorblywende deel van Voortrekkerweg het steeds ‘n verouderde rioolpyp wat in die toekoms ‘n risiko kan inhou,” sê Willy-John Gordon, ‘n munisipale kommunikasiebeampte.

“In hierdie stadium maak ons die pyp baie gereeld skoon om die risiko dat nog ‘n sinkgat vorm, te verminder. Geslotebaankamera- en gasmonitering sal enige vroeë tekens van verwering aandui.

“Ons kyk daarna om ‘n nuwe lyn te installeer met materiaal wat teen verwering bestand is, soos PVC of HDPE. Die bestaande pyplyn sal geïnspekteer word om vas te stel wat die beste metode sal wees. Ons sal kyk hoe ons die ontwrigting vir sakeondernemings en verkeer kan beperk.

“Die tydsberekening van hierdie verbeteringsprojek is krities omdat konstruksie-verwante onwrigtings verwag word. Die werk sal ook afhang van die begroting en of ons finansiële ondersteuning van die Wes-Kaapse provinsie sal kry, gegewe dat hierdie ‘n provinsiale pad is,” sê Gordon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article