Waarna kan die skare uitsien in jou langverwagte optrede?

Die een ding wat seker is, is dat hulle gaan lag.

Hoe het jy daarvoor voorberei?

Ek doen wat ek altyd doen, dit is om mense te kan verstaan. Ek repeteer want dit is belangrik om die storie te kan uitbeeld deur komedie. Dan bid ek ook.

Jou inspirasie vir die optrede?

My inspirasie is Worcester en die mense van Worcester.

Wat is die storie agter die titel?

Wel, almal wonder altyd wanneer gaan ek in Worcester die skare kom vermaak. Die titel, voel ek, is net van pas, want “Hier is ek nou so gaan julle kom? Want ek wag.” Dit is nogal ’n lekker slagspreuk om vir my te ondersteun.

Wat maak hierdie optrede anders?

Ek dink die feit dat dit in Worcester is, is al klaar ’n groot verskil. Ek tree regoor die land op en is binnekort op pad Londen toe. So hierdie optrede is baie na aan my hart.

Hoekom sal jy mense aanmoedig om dit by te woon?

Ons almal weet wat Worcester nodig het en dit is om te lag. Ek wil veral jongmense aanmoedig, maak nie saak wat hul omstandighede is nie, dit kan verander. Daar is sonskyn vir almal, maar daar is baie sonskyn by Shimmy Isaacs se optredes. Die kunsbedryf is nie net vir een soort mens nie.

Hoeveel tyd het jy spandeer aan voorbereiding?

Dertig dae is gewoonlik goeie teater-repetering, maar met komedie is dit ook belangrik om tussenin klein optredes van jou materiaal te doen voor mense. Ek breek dit op in vier ure repetisie deur die dag en tree dan op by klein komedie-venues in die aand, in die Kaap, wat natuurlik ’n groot hulp is.

Hoe verwag jy gaan Worcesteriete reageer?

Ek het nie regtig enige verwagtinge nie, elke kunstenaar hoop maar dat die skare hul met ope arms sal ontvang en ek weet meeste van die Worcesteriete wat ek ken is warmbloedige mense, so ek bid maar weer.

Enige planne in die pyplyn vir optredes in die toekoms?

Natuurlik sal ek vra dat mense my TV-program Ken Jy My dophou op Donderdagaande op Kanaal 147 VIA.

Ek is ook besig met ’n groot aanpassing natuurlik, van hoe ek die materiaal gaan oordra.

Gelukkig is dit nie my eerste vertoning in Londen nie, ek sal ook in Skotland gaan optree by komedieklubs daar. Ek is baie geseënd deur te doen wat ek doen, en my talent as skrywer en aktrise te benut.

*Ek is hier, waar is julle? vind op 30 September plaas by Worcester Gimnasium om 19:30. Kaartjies is R85, beskikbaar by die skool. Bel 078 252 0345 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article