drowing incident report
‘n Sewejarige seun van Worcester is Woensdagmiddag dood nadat hy in die Hexrivier beland het. Foto ter illustrasie: Unsplash

Enrico Claassen

Die Roodewal-gemeenskap in Worcester is in rou gedompel nadat ’n sewejarige seun Woensdag (20 Augustus) in die Hexrivier beland het, en later oorlede is.

Jermaine Rhodes van die Bloedrivier- informele nedersetting langs die Robertson-pad, was ’n graad 1-leerder by Roodewal Primêre Skool in Worcester.

Sy hartseer-tante Elzaan Geldenhuys (35) sê haar broerskind se waterdood het gekom toe hy Woensdagmiddag omstreeks halfvier saam met maatjies langs die Hexrivier gaan speel het.

Volgens haar het Jermaine aan die rivier se diepkant ingeval.

“Jermaine kon nie swem nie, want hy was maar net sewe jaar oud. Toe hulle [die maatjies] sien hy spartel in die water het hulle hulp gaan soek.

“Hy het ’n paar meter verder af op die water begin dryf nadat hy moeg geword en uiteindelik flou geraak het.”

Volgens Geldenhuys het ’n buurseun van hulle Jermaine uit die water gehaal en hom op die rivier-oewer neergelê.

“Toe die seun vir ons kom sê Jermaine het verdrink en hy lê daar, het ek net die heeltyd gesê: “Here wees hom net genadig dat hy darem nog lewe.”

Volgens Geldenhuys het sy, haar nefie Sheldon Conradie (30) en nog ander mense hulle na die toneel gehaas. Sy sê toe hulle daar aankom, het ’n klomp mense om Jermaine saamgedrom.

“Ek het onmiddellik begin mond-tot-mond-asemhaling op hom toepas en heeltyd op sy borsie gedruk. Skuim en water het by sy mond uitgekom.

“’n Vroutjie wat bo-op die brug gestaan het, het die ambulans gebel.”

Volgens Geldenhuys het ambulanspersoneel Jermaine in die voertuig gelaai en vir sowat 20 minute noodbehandeling op hom toegepas.

Sy sê hulle het kort hierna met hom na die ongevalle-afdeling van die Worcester-hospitaal gehaas waar verdere noodbehandeling op hom toegepas is.

Volgens Geldenhuys was sy die heeltyd aan Jermaine se sy totdat haar ma, Miena Dicgoe (70), en sy (Jermaine se) ouer broer, Wayden (12), en suster, Nienayline (16) later by haar aangesluit het.

Geldenhuys sê Jermaine is omstreeks 17:40 oorlede. Sy sê terwyl sy en nog ander by sy lewelose liggaam gehuil het, het haar ma aanhoudend gebid.

Die sewejarige Jermaine Rhodes was ‘n graad 1-leerder aan die Roodewal Primêre Skool. Foto: verskaf

“Jermaine was ’n liefdevolle kind en almal hier was baie lief vir hom.”

Volgens Geldenhuys woon en werk Jermaine se ma, Lydia, in die Paarl. Sy sê sy (Lydia) trek baie swaar aan haar derde oudste kind se dood.

Granville Timm, waarnemende hoof by Roodewal Primêre Skool, sê die skoolgemeenskap is baie hartseer oor wat met Jermaine gebeur het. Volgens hom is berading vir Jermaine se klasmaats en klasonderwyseres gereël.

’n Roudiens vir Jermaine word eerskomende Maandag (1 September) om 10:30 by Roodewal Primêre Skool gehou. Sy begrafnisdiens is Sondag (7 September) om 08:30 in die Kibbutz-saal in Roodewal.

AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Sy sê die polisie is tans besig met ’n geregtelike doodsondersoek.

  • Standard het in Desember 2022 ook berig oor die verdrinking van ‘n sewejarige seun van Zwelethemba, wie se lewelose liggaam op 12 Desember 2022 uit die Hexrivier gehaal is nadat hy ook saam met maats naby die rivier gespeel en vermoedelik in die water getuimel, en deur die stroom meegesleur is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article