Die besoekers, Villagers Montagu, op die aanval. Lyle Olsen, skrumskakel van Villagers Montagu, laat loop die bal na sy agterlyn in die grootuitdaagbekerwedstryd teen Bonnievale United. Villagers het die kragmeting wat op die Happy Valley- sportterrein gespeel is, ná ’n hengse geswoeg met 21-18 gewen. Foto: Norman Evertson


BONNIEVALE. – Villagers Montagu, oftewel Sesduim, het verlede Saterdag (27 Julie) behoorlik bloedgesweet om Bonnievale United in ’n grootuitdaagbeker­kragmeting in die Breë-Langebergafdeling tot oorgawe te dwing. Die telling was 21-18 in die Montagu-span se guns.

Dit was ’n triestige dag. Ligte reënbuie het nou en dan tydens die wedstryd oor die Happy Valley-sportterrein in Bonnievale neergesif.

Die nat toestande het balhantering vir albei spanne bemoeilik.

Daarby moes albei spanne in ’n stadium ook met onderskeidelik 14 en 13 man speel nadat drie spelers – twee van Bonnievale en een van Villagers – weens ontoelaatbare spel tien minute op die strafstoel moes sit.

Villagers het in die skrums die botoon gevoer, terwyl albei spanne in die lynstane gemengde welslae behaal het.

Met die aanbreek van rustyd was die besoekers ná twee verdoelde drieë teenoor die een van die tuisspan met 14-7 voor.

Ná rustyd het die tuisspan sy agterstand met twee strafdoele tot ’n enkele punt verklein toe hy die telling 14-13 gemaak het.

Villagers het egter daarna sy voorsprong met nog ’n verdoelde drie verder vergroot en die telling na 21-13 geneem.

Bonnievale, wat vasberade in sy terugvegpoging was, het voortdurend die tempo van die wedstryd met vinnige tikskoppe probeer versnel. Op die ou einde is hy dan ook met ’n onverdoelde drie, wat die telling na 21-18 geneem het, beloon.

Hoewel die tuisspan nooit ophou probeer het nie, was die besoekers se verdediging teen die einde rotsvas en kon Sesduim ná ’n hengse geswoeg uiteindelik die wa deur die drif kry.

Vir Villagers het Mario Diedericks, Lincoln Pasquallie en Mattwin Christoffels elkeen ’n drie gedruk, terwyl Willteano Martin met drie doelskoppe geslaag het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article