Tyrique Kleyn, die skrumskakel van Villagers Montagu (Sesduim), klop die verdediging van Villagers Worcester (Villa) in dié twee spanne se Grootuitdaagbeker-wedstryd. Kleyn het ‘n goeie wedstryd gehad – veral sy vreeslose verdediging het die oog gevang. Die wedstryd is Saterdag (22 Maart) op die King Edward-sportterrein op Montagu gespeel. Villagers Montagu het met 32-27 gewen. Foto: Norman Evertson

Norman Evertson

MONTAGU – Villagers Montagu, of “Sesduim”, soos die span ook bekend staan, het verlede Saterdag (22 Maart) vriend en vyand verras toe hy sy hoog aan- geskrewe naamgenoot, Villagers Worcester, of “Villa” vir sy ondersteuners, op die King Edward-sportterrein in dié twee spanne se eersteronde-Grootuitdaagbekerwedstryd met 32-27 uitoorlê het.

Dit was Sesduim se eerste sege ná vier ligawedstryde in vanjaar se kompetisie.

Die tuisspan, wat voor hierdie kragmeting in die laaste posisie op die Breë-Langeberg-punteleer was, se oorwinning oor 2024 se Top-12-naaswenner was dus betekenisvol en teen alle verwagtinge in.

Sesduim se veggees en vasberadenheid het Villa klaarblyklik onkant gevang.

Twee drieë deur die tuisspan se Bradley Ruiters (agsteman) en Ashley Monk (buitesenter), asook ‘n strafdrie weens ongeoorloofde spel op die doellyn, toegeken deur die skeidsregter, Habrey Philander, het die besoekers behoorlik geskud. Beide drieë is deur Lee van Oordt (losskakel) verdoel. Dit het aan Sesduim teen rustyd ‘n gerieflike voorsprong van 21-0 besorg.

Kort ná die begin van die tweede helfte het Ruiters, wat ‘n barshou gespeel het, sy tweede drie gaan druk en sy span se voorsprong na 26-0 vergroot. Tot op daardie tydstip was Sesduim behoorlik in beheer.

Ná Ruiters se tweede drie het Villa egter sy spelpeil verbeter en met ‘n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom. Binne die bestek van ‘n paar minute het hy drie keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.

Twee van die drieë is verdoel, wat die telling eensklaps op 26-19 te staan gebring het, maar Sesduim was steeds ‘n kortkop voor.

Die Montaguers het hierna skielik ‘n insinking beleef, terwyl Villa aan die anderkant kookwaterrugby opgedis het. Minute later het die Worcesteriete hul vierde drie, wat ‘n bonuspunt aan hulle besorg het, gaan druk.

Die telling het na 26-24 aangeskuif en Villa was nou binne bereik van ‘n oorwinning – maar die tyd was min.

Van Oordt het boonop hierna Sesduim se voorsprong met twee strafdoele vergroot en die telling 32-24 gemaak.

Villa het met ‘n strafdoelteruggekap. Hy wou eenvoudig nie be gee nie, maar Vader Tyd was nie aan sy kant nie.

Die uurglas het uiteindelik leeggeloop en Philander se fluitjie het ‘n einde aan ‘n spannende kragmeting gebring. Die eindtelling was 32-27 in Sesduim se guns.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article