Norman Evertson
WORCESTER – ‘n Rugbyles! Dis hoe die Grootuitdaagbeker-kragmeting tussen Young Hamiltons en Villagers Montagu beskryf kan word.
Dié wedstryd wat verlede Saterdag (22 Maart) op die Esselenpark sportterrein in Worcester gespeel is, was eenrigtingverkeer.Young Hamiltons of sommer net Hammies vir sy ondersteuners, was in ‘n vernietigende bui.
Die wedstryd het in ‘n eensydige affêre ontaard met die tuisspan wat die een drie ná die ander ingeryg het.Villagers Montagu of Sesduim, soos hy algemeen bekend is, het geen antwoord op Hammies se talle vrae gehad nie.
Die Sesduimers was in geen stadium ‘n bedreiging vir die tuisspan nie en het feitlik die hele agtermiddag net probeer walgooi. Daarvan gepraat, Sesduim se keerwerk was uiters broos, om dit sagkens te stel.
Hammies het die besoekers se pa-
pierdun verdediging behoorlik uitgebuit en was al teen rustyd gemaklik voor met 26-0, met die bonuspunt vir vier of meer drieë reeds veilig in die sakkie. Ná draaityd het die tuisspan sy verwoestingswerk voortgesit.
Hammies was onstuitbaar en het ‘n voetpad na die besoekers se doellyn uitgetrap soos hulle die drieë ingeryg het. Die Worcesteriete het ‘n allemin- tige nege drieë in dié kragmeting gedruk en Sesduim ‘n vernederende loesing van 55-7 toegedien.
Ondanks die oormag het die besoekers nooit ophou probeer nie en is laat in die wedstryd vir hul durf met ‘n troosdrie beloon.
Dit was Sesduim, wat sedert die begin van die kompetisie nog steeds in die wegspringblokke vassit, se derde agtereenvolgende nederlaag en hy lê aan die onderent van die punteleer.





