September is Maand vir Dowes. Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester herdenk vanjaar reeds 142 jaar van dienslewering aan Dowes en mense met gehoorverlies in Suid-Afrika. Maand vir Dowes is dus ’n baie spesiale maand vir dié organisasie, en verskeie projekte en aktiwiteite word in hierdie tyd aangebied. Raak betrokke en ondersteun Dowes en mense met gehoorverlies in hierdie besondere tyd.

. Ter viering van Maand vir Dowes en Suid-Afrikaanse Gebaretaal as 12de amptelike taal word die NID Teleton-geleentheid op 12 September by die NID se hoofingang by De la Batweg 30, Worcester, gehou. NID se personeel sal van 07:00 – 19:00 aan ’n 12-uur-fietstrapuitdaging deelneem. Elke personeellid sal 12 minute op ’n oefenfiets ry en tydens die uitdaging word mense reg oor die land geskakel om by te dra tot die minimum teiken van R120 000 ten bate van bejaarde en meervoudig gestremde Dowe inwoners. Daar sal ook ’n ekstra oefenfiets wees vir enige lid van die publiek wat graag by die uitdaging wil aansluit en 12 minute fiets trap vir Dowes en mense met gehoorverlies. Maak ’n donasie van enige bedrag en kom trap! Geen haas nie, jou eie pas. Worcester FM saai ook regstreeks uit van NID om 07:00 – 10:00. Kom ondersteun, trap, maak ’n donasie of moedig sommer net aan in die verbyry.

. NID bied op 16 September om 10:00 ’n heerlike vroue-oggend aan met die pretprater Elsabe Aldrich. Die tema is “Van treurkoeklikheid tot triomfantelikheid” en beloof ’n oggend van sielskos, skaterlag, vrouevreugde en woema. Koste is R150 per persoon (peuselboksie, koffie en sap ingesluit). Vele gelukstrekkings. WhatsApp na 071 375 1426 vir besprekings.

. Die NID Fabulous Finds liefdadigheidswinkel vier op 19 September sy derde bestaansjaar. Die doel van die winkel is om netjiese tweedehandse klere, boeke en huishoudelike artikels teen billike pryse aan die gemeenskap beskikbaar te stel en sodoende geld in te samel vir dienste aan Dowe begunstigdes. Skenk jou tweedehandse goedere aan hulle as ’n spesiale verjaarsdaggeskenk en maak daardeur ’n verskil in die lewe van Dowes by NID. Loer ook in vir verskeie winskopies en promosies op die dag.

. Internasionale Dag van Gebaretale word op 23 September, tesame met die Internasionale Week vir Dowes (18 – 24 September), gevier. Die tema vanjaar is “A World Where Deaf People Can Sign Anywhere” – ’n besonder gepaste tema na aanleiding van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) wat ook onlangs Suid-Afrika se 12de amptelike taal geword het. Leer ’n nuwe taal in September – teken in vir die NID Gebaretaalsentrum se aanlyn SAGT Kursus en aanlyn SAGT Video Woordeboek. Dié afdeling bied ook in September gratis SAGT klasse vir die publiek aan en was blitsvinnig vol bespreek.

. Vir meer inligting oor enige van hierdie projekte, stuur e-pos na fr.nid@nid.org.za of WhatsApp na 071 375 1426.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article