Die Worcester Seniors Sportklub vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en gaan sommer lekker feesvier.
Die klub is in 2013 begin en sedertdien oefen die groep elke Dinsdag en Donderdag in die binnenshuise sportsentrum in Van Huyssteenlaan. Die idee vir die klub het destyds van Joey Swarts en Sammy Pekeur gekom.
“Joey Swarts was ’n afgetrede sportman en wou aanhou oefen. Hy het toe vir Sammy Pekeur genader en hulle het ’n versoek vir die gebruik van die sentrum na die destydse burgemeester gestuur.
“Dit is ’n paar maande later goedgekeur en op 20 Februarie het die klub met tien lede begin,” verduidelik John Cupido, die ondervoorsitter van die klub.
Die klub vir bejaardes het vir ’n ruk net manlike lede gehad en in 2015 eers hul eerste vroulike lede verwelkom.
Volgens die voorsitter van die klub, Elias Modisie, is die doel van die klub om spierversterkingsoefening en uithouvermoë aan die lede te bied, asook om seker te maak hul bloedsomloop word gestimuleer.
“Hoe meer jy oefen en beweeg, hoe beter is jou lewensgehalte. Selfs van die lede se dokters het al gesê hoe hul bloeddruk al verbeter het as gevolg van die oefening. Ons leer ook ons lede verskeie danspassies. Dus is ons leuse, ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees,” verduidelik Modisie.
Die groep beskik tans oor 52 lede en neem jaarliks deel aan die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se kompetisies en onder hulle is daar ook elke jaar ’n hele paar wenners.
Buiten dat hulle op die gesondheid van hul lede fokus, raak die klub ook graag betrokke by gemeenskapsprojekte en verleen graag hulp aan ander gemeenskapsorganisasies.
“Van die geld wat ons jaarliks insamel, gebruik ons ’n persentasie om ander organisasies te help. Ons het ook al ’n hele paar van ons eie projekte oor die jare begin,” sê Modisie.
Verder verduidelik hy dat daar ook goeie kameraadskap onder die lede van die klub heers.
“Ons kyk altyd uit vir mekaar. Selfs diegene wat nie altyd vervoer tot by die sentrum het nie kan net in die WhatsApp-groep vir ’n geleentheid vra en iemand sal altyd aanbied om hulle op te laai en selfs weer ook by die huis gaan aflaai.”
Die klublede gaan sommer behoorlik hierdie mylpaal vier in die komende maande.
“Op Vrydag 28 Julie hou ons ’n mega-braai. Dan op Vrydag 27 Oktober gaan ons ’n langarm-dans aanbied en dan word ook ’n uitstappie na Goudini Spa beplan, waar ons ook ’n dankseggingsdiens gaan hou. Meer inligting sal later hieroor beskikbaar wees.
“Ons moet ook net baie dankie sê aan ons Hemelse Vader vir die laaste tien jaar en natuurlik ook aan die stigterslede vir hierdie inisiatief, want vandag staan ons op hul skouers.”
Afgetrede mense vanaf die ouderdom van 60 word genooi om by die klub aan te sluit.
“Ons maak soms ook uitsonderings vir jonger mense, afhangend van die situasie,” voeg Cupido by.
Matthys Koopman, wat 85 jaar oud is, meen die samesyn van deel wees van die klub is wat hom aan die gang hou.
“Party oggende voor ek hierheen kom, voel ek net om slap te lê, maar dan kom ek hier en oefen en voel soveel beter daarna.
“Hier is geen negatiwiteit onder mekaar nie, almal is altyd positief en jy vergeet sommer van jou slegte dag.”
Die klub hef ’n aansluitingsfooi van R25 en ’n jaarlikse fooi van R100.
. Vir meer inligting oor die komende vierings of om aan te sluit, kontak die voorsitter, Elias Modisie, by 066 285 6974.





