Beurtkrag was Vrydag vir heelwat mense ietwat van ’n skok.
Aanvanklik is aangekondig dat die elektrisiteit in Worcester net tussen 12:00 en 14:30 afgeskakel sou word. Talle het gedink dis ’n laat Aprilgrap en plaaslike sakeondernemings is onkant betrap, want hul kragopwekkers is nie in stand gehou nie.
Hier wil ek eers ’n lansie breek vir ons uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, wat die beurtkrag op haar Facebook-blad aangekondig het. Dis nie aldag dat iemand in dié posisie op dié wyse met inwoners kommunikeer nie.
En so het 14:30 aangebreek en ons was steeds kragloos, gefrustreerd en magteloos om iets aan die saak te doen. Later raak dit 18:00; die son sak binne ’n driekwartier en huise se ligskakelaars is nutteloos.
Dit moes veral vir vroue wat die aand ’n jaareindgeselligheid moes bywoon, baie senutergend gewees het. Die skoner geslag wil mos eksie-perfeksie wees vir sulke geleenthede en ’n haardroër is een van die noodsaaklike hulpmiddels om dié doel te bereik.
Een vrou vertel sy het vroegmiddag haar hare gewas en dit in die agterplaas in die son en wind laat droog word.
Die mense wat Vrydagaand die aanskakeling van die Kersliggies moes reël, se spanningsvlak was seker ook net duskant brandpunt.
Die ergste van alles is dat niemand blykbaar geweet het hoe laat die kragtoevoer weer na normaal gaan terugkeer nie.
Ons is aan die genade van die besluitnemers by Eishkom oorgelaat.
Selfs die mense wat Worcester se noodnommer beman, was in duister gehul, as jy my woordspeling sal verskoon. Ongelukkig het ek nie die naam gehoor van die operateur wat die telefoon beantwoord het toe ek gebel het nie. Ek kon hoor sy het dieselfde storie seker al telkemale oorvertel, maar steeds was sy baie vriendelik en professioneel.
Gelukkig is die kraglewering omstreeks 19:00 herstel. Van die beloofde kragonderbreking oor die naweek het dadels van gekom.
Die krisis het my laat dink aan die slagspreuk “deur dik en dun”. Wanneer alles klopdisselboom verloop, dink ons nie eens aan die munisipale amptenare, die brandweerpersoneel, die paramedici, geneeshere, verpleegsters, polisiebeamptes en ander noodpersoneel wat op bystand is nie.
Ons is geneig om hulle as vanselfsprekend te aanvaar – tot die dag wanneer ons hul dienste benodig.
Eintlik moet ons hulle gereeld bedank vir hul onbaatsugtige diens, hul opoffering en hul dapperheid in noodsituasies. Ek wou manhaftigheid pleks van dapperheid gebruik, maar netnou neem die vroue wat nooddienste lewer, aanstoot.




