Ná meer as ’n jaar se gesukkel met gesondheidsprobleme lê daar nog een operasie voor vir die Worcesteriet Chris Koopman.
Koopman het in Maart verlede jaar oudergewoonte op ’n passasierskip as ’n vermaaklikheidster gaan werk, maar teen einde April is hy in ’n hospitaal in Mexiko opgeneem.
Pankreatitis en ’n kwaadaardige sist is later by hom gediagnoseer. Hy is later na ’n hospitaal in Florida in Noord-Amerika oorgeplaas.
Die pankreatitis is egter nie hoekom hy sewe maande in die hospitaal deurgebring het nie. Die sist het nie op medikasie gereageer nie en sy gesondheid verder agteruit laat gaan. Hy het ook inwendig gebloei.
’n Operasie is in Junie op Koopman uitgevoer om die sist te ondersoek en ook vloeistowwe te dreineer. Daarna was hy nog maande lank in die hospitaal, maar is uit die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas.
Koopman het uiteindelik op 12 November huis toe gekom. Hy was nog baie swak maar is deur ’n verpleegster op die reis huis toe vergesel.
“Ek was baie opgewonde toe ek hoor ek kon huis toe kom,” het hy aan Standard & Gazette gesê.
Hy verduidelik ook dat sy siektetoestand net uit die bloute begin het.
“Ek het skielik erge pyn begin ervaar. Ek was gesond en het niks gevoel voordat ek vertrek het nie.”
Hy moet nog een operasie ondergaan waartydens sy wond toegemaak sal word.
“Hulle moet dit toemaak dan sal ek normaal kan eet. Maar ek moet eers gewig optel en sterker raak voordat die operasie gedoen kan word,” verduidelik hy.
Vir nou hou hy homself besig met Netflix en Youtube, maar bieg ook dis nie vir hom lekker om heeltyd so by die huis te sit nie.
Hy beplan wel weer aan sy toekoms.
“Ek gaan weer op die bote sing. Ek weet ek gaan weer terug,” het hy positief en vol hoop gesê.
Hy sing al van kleins af en het sy loopbaan in die kerkkoor begin en later by Soul Reflection aangesluit.


