Young Hamiltons-rugbyklub het verlede Saterdag die huidige Boland-kampioen, Saldanha RVK, groot laat skrik in die Saldanha-stadion.

Die Weskus-span het die wedstryd net-net met 26-21 gewen, nadat hulle in ’n stadium 26-5 voor was. Hammies kon ook die wedstryd wen, sou ’n omstrede drie waar die bal duidelik deur die binnesenter van Saldanha aangeslaan is, nie toegeken gewees het nie.

In die aanloop tot die drie – nadat die bal aangeslaan is en deur hul vleuel deurgeskop en toegeval is – was daar ’n onderonsie tussen die spanne waarop die skeidsregter se aandag gevestig is.

Nadat die kapteine egter nader geroep is, is die drie steeds toegeken tot groot ontevredenheid van die skare Hammies-ondersteuners.

Nog ’n voorval waarin Hammies ook moontlik die wedstryd kon beklink, was toe Saldanha ’n vyfmeterskrum van hul doellyn kry, maar deur Hammies teruggestoot is tot oor hul doellyn. Maar ’n strafskop is aan die tuisspan toegeken.

Philbrey Joseph op agsteman was kardinaal in dié beweging en het ook op die bal geval, maar tevergeefs. Luciano Truter kon op skrumskakel nie lekker sy voete vind nie terwyl die jong Darren Williams weer sy waarde as vaskopstut onderstreep het.

Die meer ervare Irvin Malapi het later dié rol vertolk en bestendigheid voorlangs verleen. Agterlangs was Garth Jacobs seepglad voor hy met ’n besering van die veld is. Die Saldanha-bestuur was agterna by die onthaal vol lof vir die goeie rugby wat deur Hammies opgedis is en het belowe om volgende jaar in Worcester te kom speel.

Hammies B het in ’n baie opwindende voorwedstryd in die laaste 15 minute bes gegee en met 24-17 vasgeval terwyl die C-span met 19-17 gewen het.VHammies speel Saterdag tuis teen Langebaan, nog ’n Weskus-span. Wedstryde begin om 14:00 in Esselenparkstadion.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article