Young Hamiltons het verlede Saterdag laat teen Ceres RVK opgewarm nadat die tuisspan (Ceres) Hammies se ritme met negatiewe taktiek ontsier het.
Die skeidsregter, Gabriel Mars, het ook nie juis bygedra tot vloeiende rugby nie en met vreemde beslissings albei spanne se benadering versteur.
Die wedstryd self kon nooit regtig aan die gang kom nie met die skeidsregter wat die spanne telkemale laat terugkom het vir die een of ander oortreding waar daar nie genoegsame voordeel was nie.
Die rustydtelling was daarom baie laag (10-6 vir Hammies) nadat verskeie aanslae deur die besoekers – waar moontlike drieë gedruk sou word – deur vreemde beslissings gekniehalter is. Skrums was aan die orde van die dag, tot groot frustrasie van die talle toeskouers.
In die tweede helfte was daar ’n bietjie meer aksie met Hammies wat die bal lekker lug gegee het. Die wedstryd is deur die besoekers versnel en Ceres is in die meeste gevalle onkant betrap.
Voorlangs het Hammies met sy kaptein, Danwill Lukas, aan die spits geleidelik beheer oorgeneem en Ceres swaar skrumtyd laat beleef.
Agterlangs is die skare op briljante spel getrakteer, veral deur die Hammies-skrumskakel wat die tuisspan pal aan die raai gehou het. Die eindtelling was 27-13 in Hammies se guns.
Hammies se drieë is gedruk deur Garth (Seep) Jacobs, Yushwin Hattingh, Danwill Lukas en Francois Mampa (2). Hattingh kon slegs sy eie drie verdoel.
Hammies B het 31-27 gewen toe Ceres nie ’n derde span in die veld kon stoot nie. . Hammies speel Saterdag tuis op Esselenpark. Die C-span se wedstryd begin om 14:20.




