Drie polisiebeamptes en twee voormalige polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is weens klagte van inbraak, aanranding en intimidasie, het onlangs weer in die hof in Wolseley verskyn, maar weens ’n vermiste dossier is die saak eers weer uitgestel.

Al die beamptes is laat gaan en dit blyk nou dat hulle dalk verkeerdelik aangehou is. Tydens hul hofsitting op Donderdag 17 November is die saak weer uitgestel weens die feit dat die dossier nie die hof bereik het nie.

Volgens ’n bron na aan Standard blyk dit die dossier is dalk tans by die departement van justisie vir verdere ondersoek oor die beweerde aantygings dat hulle verkeerdelik aangehou is.

Die beskuldigdes – Byrone Williams (26), Heinrich Hendricks (38), Ricardo Conradie, Cashwin Visagie (29) en Wayne Boer (44) – is in September vanjaar in hegtenis geneem. Hoewel die borgtogproses gesloer het, is almal op borgtog of op waarskuwing vrygelaat.

Visagie, Conradie en Williams staan tereg op ’n aanklag van huisbraak met die opset om aan te rand. Boer staan tereg op ’n aanklag van intimidasie en een van korrupsie. Hendricks is van regsverydeling aangekla.

Boonop blyk dit Boer en Conradie staan ook in Tulbagh op ’n aanklag van korrupsie tereg.

Standard het navrae aan die hof sowel as die staatsaanklaer gerig. Die Wolseley-hof het egter nog nie op verdere navrae gereageer nie.

Die staatsaanklaer, Johnson Laverne, het aan Standard gesê hy was nie self by die hofverrigtinge nie, maar weet nie van die moontlikheid dat hulle verkeerdelik aangehou is nie.

Hulle het ook nie verder uitgebrei oor die dossier nie.

“Ek is nie seker hoe hierdie inligting onder u aandag gebring is nie,” het Laverne voorheen aan Standard gesê.

Familielede en vriende van die beskuldigdes het die hofbanke tydens die onderskeie hofsittings volgepak. Hulle het buite die hof aangevoer dat iets nie pluis is nie en dat die beskuldigdes verkeerdelik van hierdie misdrywe beskuldig word.

Standard het van die vertroulike bron verneem die klaer in die saak het voorheen met van die beamptes ’n geskil gehad, wat spruit uit klagtes teen die klaer.

Die beskuldigdes moet Vrydag 9 Desember weer in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article