‘Rus sag, dr. Ferrus’ – Worcester roep een van sy dogters vaarwel

Wyle dr. Diana Ferrus.

Dit is met ‘n seer hart dat Worcester verlede week een van sy bekendste dogters gegroet het.

Dr. Diana Ferrus (72), ‘n bekroonde digter en aktivis, is op Vrydag 30 Januarie dood nadat sy op Kersdag ‘n beroerte gehad het. Sy het ten tyde van haar dood in Kuilsrivier gewoon.

Dr. Ferrus se stem het wêreldwyd weerklink. Haar gedig “I’ve Come to Take You Home“, wat sy in 1998 as huldeblyk aan Sarah Baartman geskryf het tydens haar studies aan die Universiteit van Utrecht in Nederland, het die bal aan die rol gesit om Baartman se oorskot ná 192 jaar aan haar tuisland terug te besorg.

Baartman is twee eeue gelede, glo onder valse voorwendsels, deur ‘n Britse dokter Europa toe geneem, waar sy onder die verhoognaam “Hottentot Venus” uitgestal is vir wat beskou is as ‘n ongewone liggaamsbou.

Sarah Baarman kom huis toe

Dr. Ferrus se gedig het só ‘n impak gehad dat die Franse regering oorreed kon word om haar oorskot terug te stuur Suid-Afrika toe. Haar gedig is ook in Franse wetgewing vervat.

Esselenpark Sekondêr, waar sy gematrikuleer het, het hulde aan haar gebring. “Met groot hartseer neem ons as Esselenpark Sekondêr afskeid van dr. Diana Ferrus, ‘n geliefde digter, skrywer en stem van geregtigheid, wat ook ‘n trotse oudleerder van ons skool was.

“Dr. Ferrus het Worcester se naam ver gedra, nie net deur haar woorde nie, maar deur haar moed, menslikheid en passie vir die waarheid. Haar ikoniese gedig “I’ve Come to Take You Home” het wêreldwyd weerklank gevind en ‘n belangrike rol gespeel in die terugkeer van Saartjie Baartman na haar tuisland – ‘n kragtige bewys van hoe poësie kan genees, onthou en verander. Ons eer haar nalatenskap en is dankbaar vir die lig wat sy vir soveel mense was.”

Charles Beukes, ‘n gemeenskapsaktivis, vertel dat hulle as kinders albei in Kroonstraat in Victoriapark grootgeword het. “Ons paaie het uiteen geloop en ons het eers later as volwassenes saam gewerk.” Beide dr. Ferrus en Beukes was van die skrywers wat bygedra het tot die boek Worcester – die Ongeskrewe geskiedenis. “Ek is baie trots daarop dat sy kon deel wees van hierdie eerste boek van ons,” het Beukes gesê. “Sy was baie geheg aan haar komvandaan en het gereeld vriende en familie hier besoek. Sy was ‘n eenvoudige, stil en plat-op-die-aarde mens en kyk watter groot impak het sy op die wêreld om haar gemaak,” het Beukes gesê.

Vryheid van Worcester

In 2020 is die Vryheid van Worcester aan Ferrus, tesame met elf ander bekende Worcesteriete, deur die Breedevallei-munisipaliteit aan haar toegeken.

Laniëlle Hartzenberg, ‘n familielid, het geskryf: “Dr. Ferrus was meer as ‘n openbare figuur – sy was ‘n geliefde familielid, mentor en ‘n leidende lig.

“Haar nalatenskap sal voortleef deur haar werk, haar stem en die ontelbare mense wat sy oor generasies en grense heen geïnspireer het.”

Selfs Pres. Cyril Ramaphosa het sy medelye betuig. Hy het Maandag in ‘n verkla­ring gesê ‘n merkwaardige stem het stilgeraak. “Diana Ferrus was ‘n kreatiewe staatmaker en ‘n patriot wat ons nasie in prosa geskilder het,” het hy gesê.

“Niemand kon onaangeraak bly deur haar insig en haar diepe waardering vir ons nasie se kulturele en natuurlike gawes nie. Ook nie vir haar eise om geregtigheid nie en die herstel van die waardigheid van onteiende en ontmagtigde mense.

“Mag Diana se siel rus in die vrede waarnatoe sy Sarah Baartman genooi het in haar gedig,” het die president gesê. In die laaste paar dae is talle oproepe gerig dat dr. Ferrus met ‘n staatsbegrafnis vereer moet word. Sy sal in Worcester ter ruste gelê word.

‘n Gedenkdiens word op Donderdag 5 Februarie om 18:00 in die Elsies River High School se saal gehou. Die familie het in ‘n boodskap aan die gemeenskap geskryf: “Talle mense het gevra hoe hulle dr. Ferrus kan vereer. Blomme is welkom en eerbetonings sal nie ontmoedig word nie. Indien u die familie op ‘n praktiese manier wil ondersteun, sal kruideniersware en koopbewyse waardeer word. Dit weerspieël ons tradisies en gewoontes – om dinge huis toe te bring, soos wat die gewoonte vroeër jare was.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article