“Curwin was oor die algemeen baie gehoorsaam, taamlik stil en ’n groot liefhebber van sport.”
Dít is hoe sy oupa, Cornelius Longman, vir Curwin Longman beskryf.
Curwin, ’n kranige jong rugbyspeler van Worcester, het Maandag 29 Januarie op 22-jarige ouderdom weens ’n gesondheidstoestand gesterf.
Die nuus van Curwin se dood het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit was ’n duidelike aanduiding van hoe hoog Curwin in Worcester geag is.
Sy oupa vertel dat hy fisiek nie die grootste van seuns was nie, maar sy hart was groot. Hy het op ’n vroeë ouderdom by die Alberts-rugbyklub aangesluit nadat hy ’n groot invloed op die sportkultuur van die Hoërskool Breërivier gehad het.
By Alberts het Curwin hoofsaaklik heelagter en vleuel gespeel.
Die skakelbeampte van Alberts, Clinton Anthony, vertel dat Curwin besonders talentvol was.
“Hy het ’n baie goeie visie vir rugby gehad, maar kon nie sy volle potensiaal bereik nie. By Alberts het ons geweet, wanneer Curwin ’n saamtrek by die kerk het, sou ons altyd tweede kom. Hy was geweldig lief vir die Ou Apostoliese kerk.”
Curwin het sy skoolloopbaan by Hexpark Primêr begin, by Esselenpark Primêr voortgesit voordat hy die Hoërskool Breërivier bygewoon het.
Sy ouma, Elizabeth Longman, vertel sy kan nie onthou dat hy in sy grootwordjare met karretjies gespeel het nie.
“Hy was gek na ’n bal; enigiets wat rond is.”
Voordat hy na die Hoërskool Breërivier toe is, is hy deur ’n sportskool in Kuilsrivier genader. Hy het ’n jaar lank sy voete daar probeer vind, maar die afstand het dit nie maklik gemaak nie en hy het eerder na sy geliefde Worcester teruggekeer.
Die familie wil ’n ieder en ’n elk vir hul ondersteuning in hul tyd van bedroefheid bedank.




