Een van Worcester (veral Worcester Villagers) se voormalige sterspelers, die 71-jarige Charles January, is die afgelope Saterdag onder groot belangstelling en bywoning deur veral sy voormalige spanmaats en rugbyvriende begrawe.
Onder die bekendes wat die begrafnisdiens bygewoon het, was die destydse president van Boland, Jackie Abrahams, die voormalige Boland-kaptein Francois (Kabalie) Davids, asook John Triskey en Cupido (Zoeloe) Cupido, wat die Bolandspan in 1988 afgerig het. Dié 1988-span het die SA Bekerwedstryd gewen toe hy WP in die eindstryd geklop het.
January, of “Challa”, soos hy alombekend gestaan het, was een van twee seuns van wyle oom Karools en Auntie Ralie January. Albei seuns het nie net vir Worcester Villagers, die destydse Worcester Unie, uitgeblink nie, maar ook vir Boland.
January sy laerskoolopleiding aan die destydse Congregational Kerkskool in Russellstraat en sy hoërskoolopleiding aan Esselenpark Sekondêre Skool voltooi. Dit was veral tydens sy hoërskooldae dat hy as ’n briljante rugbyspeler maar ook as ’n staatmaker-atleet wat in veral gewigstoot, spies en diskusgooi uitgeblink het, uitgestaan het. Hy was ook ’n baie goeie 200 m-atleet en een van EPH se staatmakers in sy 4×200-m-aflosspan.
January het sedert hy in gr. 9 was, gereeld vir die skool se o.19A-rugbyspan gespeel en was sommer gou een van Worcester Villagers se voorslagspelers. Hy het veral uitgeblink as flank of agtsteman, maar was ewe tuis op slot (saam met sy broer, Hennie) as dit van hom verlang is om daar diens te doen.
Nadat hy reeds op 18-jarige ouderdom in die Worcester- Uniespan opgeneem is, was hy op 19-jarige ouderdom een van die jongste spelers wat in die destydse Bolandspan onder die Saru-vaandel opgeneem is. Sy vuurdoop was sy buiging teen die WP in dié se agterplaas by die Groenpunt-stadion.
January is in 1995 – op 22-jarige ouderdom – in die Suid-Afrikaanse span opgeneem, wat hom weer eens een van die jongste spelers nog maak om die eer te beurt te val.
Challa het hom ná skool as elektrisiën onder die bekwame hande van nog ’n legendariese Villagers-speler, Oom Joey Felix, bekwaam totdat hy ’n paar jaar gelede weens gesondheidsredes moes halt roep.
Charles was die pa van twee kinders. Hy was ook die trotse oupa van vier kleinkinders, wat hom baie na aan die hart gelê het.





