Primrose-rubgyklub het die afgelope Saterdag ’n oefenkamp op Bolandpark gehou.
Die klub het ná drie ligawedstryde ’n loslootjie gehad en die bestuur en afrigters het besluit om die spelers fiks te hou.
Johan Stemmet, ’n oudspeler van Primrose, het die spelers toegespreek en hulle sterkte toegewens vir die res van die seisoen en toe ’n inspirerende boodskap gebring.
Daarna het die legendariese oudafrigter Sammy Horne die spelers meer oor die klub se geskiedenis en kultuur, onder meer dat dit ’n familieklub is, ingelig.
Hy het ook die afrigters en bestuur bedank vir hul opoffering en werk wat hulle doen. Daarna het hy dit opgevolg met ’n praatjie oor rugby, die vermoë om dinge reg te doen asook kondisionering. Hy het ook genoem dat rugby ’n spel is wat jy met hart en siel moet aandurf.
Daarna het die ondersteuners en die spelers tyd saam met mekaar deurgebring. Die atmosfeer was fantasties en almal teenwoordig het die uiters suksesvolle dag geniet.
Die bestuur wil ’n ieder en ’n elk bedank vir hul opoffering en bydrae tot die sukses van die dag. . Saterdag (21 Mei) speel Primrose tuis teen Sandhills. Alle voornemende en bestaande spelers word genooi om die oefening van Dinsdag tot Donderdag elke aand om 18:00 by te woon.



