Robertson Town is ná drie wedstryde in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie een van slegs twee spanne wat steeds onoorwonne en sterk in die wedloop vir ’n plek in die kampioenskapsrondes van dié kompetisie is.
Safcol van Grabouw is die ander span wat tot dusver al sy kragmetings in die kompetisie gewen het.
Die werklike reg-of-weg-wedstryde kom egter eers aan die beurt sodra die groepwedstryde van die kompetisie afgehandel is.
Saterdag (4 November) se wedstryd tussen Darling en Robertson Town op eersgenoemde se tuisveld sal vir seker lank onthou word vir die flink optrede van die skeidsregter, Lee Beukes, nadat ’n speler van Town, Lindsay Eksteen (linkervleuel), ernstig beseer is.
Beukes het tydens die wedstryd opgemerk Eksteen is onvas op sy voete en het hard op sy fluitjie geblaas om die spel onmiddellik te stop.
Tegelykertyd het hy hom na ’n steierende Eksteen, wat gelyk het of hy enige oomblik gaan omkap, gehaas, sy arms om sy middel geplaas en die speler so ondersteun totdat die mediese personeel bygekom het.
Eksteen is op die veld gestabiliseer en daarna inderhaas per ambulans na die plaaslike hospitaal vervoer.
Die beseerde Eksteen het vermoedelik erge harsingskudding in ’n kontakvoorval in die wedstryd opgedoen.
Die wakker skeidsregter is later wyd op sosiale media vir sy blitsvinnige optrede, wat moontlik verdere skade vir Eksteen beperk het, geprys.
Boodskappe van sterkte en ’n spoedige herstel het ook vir die beseerde vleuel op sosiale media ingestroom.
Maar terug by die wedstryd . . .
Robertson was in die eerste helfte heeltemal in beheer van dié Sanlam-Boland-Top-12-kragmeting en het teen rustyd gemaklik met 20-7 voorgeloop.
Die traumatiese gebeure rakende Eksteen se besering het die span in daardie stadium oënskynlik ’n sielkundige knou toegedien.
Hierteenoor het Darling in die tweede helfte weer met meer vuur en ondernemingsgees gespeel. Die tuisspan het nie net sy agterstand uitgewis nie, maar in die 50ste minuut selfs die voortou met die telling op 21-20 geneem.
Die spanne het mekaar vir ’n ruk goed in toom gehou voordat hulle om die beurt – eers Town, toe Darling – ’n strafdoel deur die pale gejaag het, wat die telling 24-23 vir Darling gemaak het.
Robertson het homself egter uiteindelik reggeruk en met ’n verdoelde drie in die 62ste minuut weer die voortou geneem.
Town moes hierna verskeie aanslae van die tuisspan trotseer voordat hy die aksiebelaaide wedstryd eindelik met 30-24 in sy guns beklink het.
Darling sal waarskynlik ongelukkig voel oor die pragdrie van sy kaptein, Earl Lewis, wat ná ’n lang bespreking tussen Beukes (skeidsregter) en sy twee assistente, nie toegeken is nie.
Tog het die einste Lewis ná die wedstryd in ’n onderhoud grootmoedig erken dat die aantal geelkaarte (4) sy span gekniehalter en heel moontlik die wedstryd gekos het.NOG RUGBY-UITSLAE:Groot Uitdaag (Top-12)
Bella Vista 56, Mamre 24; Saldanha 97, Eagles 19; Wesbank 53, Delicious (Noordweste) 19; Safcol 29, Young Hamiltons 10; Roses United 29, Hawston 21.





