BONNIEVALE – Drie mense het verlede week ’n gewelddadige aanval deur vier gemaskerde rowers op ’n plaas in Bonnievale oorleef.

Die voorval het hom op Donderdag 5 September omstreeks 23:30 op die plaas Stillerus begin uitspeel en het tot 02:30 die volgende oggend geduur toe die rowers met verskeie waardevolle artikels die toneel verlaat het.

“Vier mans met klapmusse het die huis deur een van die kamers se vensters binnegegaan. Die paartjie, ’n 63-jarige man en 51-jarige vrou, was aan die slaap toe die verdagtes hulle begin rondpluk. Die verdagtes het geld, juwele en vuurwapens gesoek,” sê ’n woordvoerder vir die Bonnievale-polisiekantoor.

Die slagoffers is vasgemaak en met die dood gedreig.

“Die verdagtes het hul hande en voete vasgemaak en die slagoffers se monde met kleefband toegeplak. Hulle het die man met ’n koevoet aangerand. Hy is oor sy kop en knieë geslaan. Hy het erge wonde opgedoen en is kort ná die aanval in die hospitaal opgeneem. Die vrou is in haar gesig asook teen haar regterskouer geslaan en een van haar vingers is gebyt.”

Die 51-jarige se ma het ten tyde van die voorval by hulle gekuier en is ook deur die verdagtes aangerand.

“Sy het beserings aan haar gesig en een van haar hande opgedoen. Die verdagtes het haar vir geld gevra ek ook waar die kluis is, maar sy het hulle ingelig dat sy nie weet nie, want sy kuier net by hulle. Soos met die ander twee slagoffers, is die bejaarde vrou ook vasgemaak en haar mond toegeplak.”

Buiten dat die verdagtes by die hoofhuis ingebreek het, het hulle ook by een van die plaaswerkers se huise gaan klop en hulle gedwing om na die hoofhuis te gaan.

“Die twee verdagtes het hulle as polisiemanne voorgedoen. Toe die man in die huis egter die deur vir hulle oopmaak, het die verdagtes hom beveel om op die grond te lê. Sy hande en voete is toe met elektriese kabels vasgebind. Die verdagtes het elk ’n vuurwapen en mes op die man, sy vrou en dogter gerig. Die hele gesin is toe aangesê om na die hoofhuis te loop.”

Daarna het die verdagtes verskeie artikels in die huis in sakke begin pak.

Hulle het juwele ter waarde van R500 000 gesteel, ’n Kruger-muntstuk ter waarde van R40 000, ’n skootrekenaar ter waarde van R15 000, ’n sonbril met ’n waarde van R7 500, en R300 kontant, tesame met R4 500 wat hulle uit die bejaarde vrou se sak geneem het.

Die voorval het ure lank geduur en het geëindig toe die rowers die toneel om 02:30 in slagoffers se Audi Q7 verlaat het. Die motor is later in die Uitsig-buurt opgespoor. Die verdagtes is in hierdie stadium steeds soek.

Die polisiewoordvoerder het Dinsdagmiddag laat weet hulle is besig om met iemand van belang oor die saak te praat.

Sy het ook gesê die man sou daardie middag ingaan vir ’n operasie weens die erge beserings wat hy as gevolg van die aanval met die koevoet opgedoen het.

“Ons is nog almal baie besig met die verdere ondersoek van die saak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article