Hierdie naweek kan inwoners die grootste landbou-saamtrek in die land geniet, met die jaarlikse Nampo Kaap wat in Bredasdorp plaasvind.
Hierdie geleentheid het verlede jaar 34 635 besoekers gelok en 516 uitstallers was teenwoordig.
“Daar is 600 staanplekke toegeken aan sowat 530 uitstallers en daar is steeds uitstallers op die waglys,” sê Henk Aggenbach, die voorsitter van die Bredasdorp-park-direksie, wat Nampo Kaap in samewerking met Graan SA aanbied.
“Van die nuwe items op die Nampo Kaap-spyskaart is die Greenworks-demonstrasiebaan waar batteryaangedrewe voertuie getoets en gedemonstreer word.
“Vanjaar se Vroueprogram in die Distinctive Choice-tent en die blomme in die Voermol- en Neptun-saal sal verseker dat die vroue wat Nampo Kaap bywoon, hul mans vra om ’n bietjie langer te bly,” sê Aggenbach.
Die tema vanjaar is “Landbou, die ruggraat van ekonomiese groei”.
“Die belangrikheid van landbou strek verder as blote produksie. Nampo Kaap speel ’n belangrike rol in landelike ontwikkeling en die bevordering van sosiale groei. Deur produsente met moderne toerusting en kennis te bemagtig, kan ons produktiwiteit en inkomste ’n hupstoot gee, wat lei tot ’n lewendiger en meer robuuste landbousektor,” sê dr. Dirk Strydom, die hoof van Nampo se bemarking en navorsingskoördinering by Graan SA. “Hoogtepunte waarna besoekers kan uitsien, is die skaaphond-ekspo wat lesings, demonstrasies en kompetisies insluit, asook die Suid-Afrikaanse Lipizzaners wat daagliks vertonings op die maat van bekende musiek doen.
Marjolijn Malan se blommerangskikkings in die Voermol-saal is iets om na uit te sien, asook die fynbos-uitstalling in die Neptun-saal onder leiding van Jan Hagen.
Skoolleerders kan by die Wes-Kaapse landboudepartement se skoleprogram dít wat hulle in die klaskamer leer, aanvul met praktiese ervarings wat die kurrikulum ondersteun. Die Overberg-streeksjeugskou vind ook die Saterdag plaas en leerders kan inskryf vir die klasse oor suiwelbees, vleisbees, vleisskaap, wolskaap, veselbok, melkbok, vleisbok, pluimvee, perd, konyn, duif, kulinêre kuns, suiwelbereiding en fotografie.
Nampo Kaap het gister (Woensdag 11 September) begin en duur daagliks van 08:00 tot 17:00 tot Vrydag 13 September en van 08:00 tot 14:00 Saterdag 14 September by Bredasdorppark.
. Koop kaartjies by www.ticketpros.co.za; toegang kos tussen R50 en R80.




