Geregtigheid het geskied nadat ‘n dief wat ‘n buitelandse en ‘n plaaslike vrou in McGregor aangeval en beroof het, Donderdag (10 Julie) 12 jaar tronk toe gestuur is.
Austin Visser (22) van McGregor is 12 jaar tronkstraf opgelê op ‘n aanklag van roof met verswarende omstandighede en ‘n verdere 12 jaar op ‘n aanklag van huisbraak met die opset om te roof en ‘n tweede aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Die hof het gelas dat die twee vonnisse samelopend uitgedien word.
Visser het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en het skuld op die aanklagte beken.
Luidens die pleitooreenkoms erken Visser dat hy op 25 Junie 2022 op sy fiets in Voortrekkerstraat, McGregor gery het.
Hy het die klaagster gewaar waar sy op die sypaadjie met haar selfoon in die hand geloop het. Die klaagster was ten tyde van die voorval 64 jaar oud.
Volgens Visser het hy besluit om die klaagster te agtervolg met die opset om haar selfoon met geweld by haar af te neem.
Hy sê hy het op die hoek van Kerk- en Meulstraat met sy fiets verby die klaagster gery en voor haar stilgehou.
Visser het gesien die klaagster se beursie is leeg nadat hy dit uit haar hand gegryp het.
Hy sê toe die klaagster hom meedeel sy het niks in haar besit nie, het hy haar hard op die bors geslaan, wat haar op die grond laat val het.
Visser erken hy het sy hand in die klaagster se baadjiesak gesteek en haar selfoon, ‘n Samsung A32, uitgehaal.
Volgens hom het hy sy mes uitgepluk en aangedring op geld, waarop sy geantwoord het dat sy nie geld in haar besit het nie.
Visser erken hy het die mes op die klaagster gerig en haar gedreig met die doel om haar ernstig te beseer. Hy erken die waarde van die leerbeursie en selfoon is R5 000.
Visser erken hy het geen reg of toestemming gehad om die klaagster aan te rand en haar selfoon en leerbeursie met geweld te neem nie.
Met betrekking tot die aanklag van huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, sê Visser dat hy op 3 Julie 2024 in die vroeë oggendure buite die perseel van ‘n huis in Voortrekkerstraat, McGregor, was.
Hy het gedink dat die huismense gaan slaap het toe hy sien die ligte word afgeskakel.
Visser erken hy het die huis met ‘n mes in sy besit genader. Hy sê hy was van voorneme om die huis met geweld binne te gaan en eiendom te steel en vir homself te hou.
Volgens Visser het hy geweet daar is mense in die huis en het om daardie rede ‘n mes rondgeswaai omdat hy die moontlikheid voorsien het dat hy dit dalk op een van die huismense sou “moes gebruik”.
Visser erken die sitkamerdeur van die huis was nie gesluit nie. Hy het die deur oopgemaak en die huis binnegegaan. Hy sê in die huis het hy ‘n beursie gevat. In die beursie was die klaagster se identi- teitskaart en ‘n ABSA-kredietkaart.
Volgens Visser het hy agter ‘n slaapkamerdeur weggekruip toe die honde buite begin blaf het. Hy sê toe die klaagster hom gewaar, het sy gegil en haar man gewaarsku.
Volgens Visser het hy die klaagster met die mes gesteek toe sy geen selfone of geld, soos hy vereis het, aan hom oorhandig het nie.
Hy erken voorts dat die klaagster se linkerduim en kleinvinger as gevolg van sy optrede beseer is.
Visser erken sy optrede was onregmatig en strafbaar deur ‘n hof.
Elton Willemse het namens die staat aangekla. – Enrico Claassen





