Worcester Rotary het talle projekte in die nuwe millennium van stapel gestuur of aan die gang gehou.
Vir baie jare het hulle ’n kroeg beman by die jaarlikse landbouskou teen ’n persentasie van die wins wat opgedeel is in gemeenskapsprojekte.
Die Pioneer Rally, soos hy vandag bekend staan, het onder Rotary begin as die jaarlikse Blind Rally. Die opbrengs is aan die Pionierskool geskenk. Hulle het later die projek oorgeneem en sederdien groei dit met rasse skrede.
Rotary het ’n kleuterskool in Avianpark begin wat vandag nog in ’n groot behoefte in die gemeenskap voorsien
Sedert 2010 bied Rotary jaarliks die Tree of Joy aan. Hier word daar aan die einde van die jaar in die Mountain Mill-winkelsentrum geld insamel om Kersgeskenke aan kinders in die gemeenskap te voorsien. Rotary het ook skole in Worcester betrek om Kersgeskenke in te samel by hulle leerders. Van die skole wat al deur hierdie projek bevoordeel is, is onder meer Nuwe Hoop Sentrum, Wyzersdrif Primêr en Eden Skool.
Rotary braai jaarliks, benewens Huis Brevis, vir drie ander hostelle vir gestremdes, asook Huis Awendrus vir bejaardes. Die gestremdes by Lewensruimte word ook jaarliks onthaal en Kersgeskenke word hier uitgedeel.
Rystoele word ook gereeld voorsien aan tehuise vir bejaardes en gestremdes
Rotary nooi jaarliks die hoofseuns en -meisies van verskeie hoërskole na ’n motiveringskamp.
Hulle is jaarliks betrokke by Soles For Souls, waar skoene aan leerders uitgedeel word.
Op die oomblik is die organisasie ook nog besig met ’n groot projek by die Sinethemba-nasorgsentrum in Zwelethemba waar daar reeds twee vraghouers geskenk is. Een is reeds ingerig as klaskamer en die ander een word ingerig as rekenaarperseel waar die kinders ná skool opleiding in rekenaarvaardighede kan kry.




