Foto ter illustrasie.

Die heel eerste nasionale Rooibosdag word op 16 Januarie gevier. Hiermee saam gaan mense mik vir die rekord vir die meeste mense wat op een plek saam rooibostee drink.

Die geleentheid sal in Clanwilliam, die Rooiboshoofstad van die wêreld, gehou word.

Die geleentheid sal geopen word deur James Vos, skaduminister van toerisme.

Rooibosliefhebbers kan uitsien na stalletjies met produkte van Rooibos Limited, Khoisan Tea, Kings, Carmien Tea, Ou Huis en Biedouw Valley Rooibos.

“Ons hoop om ’n rekord op te stel op dié dag, maar dis vir ons belangriker om die oorvloed Rooibos wat ons land sy eie kan noem, te vier,” sê Marietjie Smit, een van die organiseerders van Rooibosdag.

Vir diegene wat op soek is na ’n ander soort verfrissing, sal die craftbrouery Stellenbrau hul rooibosgegeurde bier beskikbaar stel. Audacia gaan hul Rooiboswyn beskikbaar hê, terwyl Klawer Wyne hul African Ruby Vermouth gaan aanbied.

Daar sal ook rooibos-ysdrankies (slush puppies) en rooibos-ystee (met ’n skop) wees vir dié wat avontuurlustig voel.

Roosterkoeke en boerewors, gerookte snoek, hoenderslaai (vir die gesondheidsbewustes), kerrie-en-rys met rooibos-gestoofde vrugte en rooibos-biefstukburger sal op die spyskaart wees.

“Besoekers kan ’n interessante verskeidenheid handelaars, produkte en uitstallings verwag. Die enigste vereiste? Alles moet verwant wees aan Rooibos!” sê Sanet Stander, medestigter van die Rooibosroete.

Die feesvieringe sal plaasvind by die Augsburg-landbougimnasium by Jan Mostert-park vanaf 18:00 tot 22:00. Die hek maak om 17:00 oop.

Toegang is gratis en as jy een van die eerste 500 besoekers is, ontvang jy ’n koepon wat jy kan ruil vir ’n produk, drankie of geskenk by enigeen van die stalletjies.

Vir verdere navrae kontak: 027 482 1007 of e-pos by rooibos@netmar.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article