Ja, ons beleef die lewe met simbole van kleure soos die seisoene van die jaar, maar ook soos die maande. Rooi en wit is in Februarie seker Kupido se kleure met Valentynsdag wanneer almal in die maand van liefde leef. In Desember kom dié kleure na vore as die simbool van Kersfees. Geskenke in rooi en wit lyk so belowend; advertensies in die media gebruik rooi en wit om die aandag te trek na wat ook al die teiken is. Namate die maande en dae verby tik, kry elke kleur iets van betekenis.

Nou wat sal rooi en wit van belang wees vir DoofBlinde mense – iets baie besonders, wat internasionaal erken word en as simbool gebruik word. Almal weet dat die mannetjie met die “wit stok” aandui dat die draer blind is, en wanneer mense iemand met die “wit stok” teëkom, is hulle versigtig en bly uit hul pad.

Mense wat blind en doof is, maak al baie jare hul “kierie” rooi en wit sodat mense bewus kan wees so iemand is nie net blind nie, maar het ook ’n gehoorgestremdheid.

Deesdae dink heelwat blinde mense dit sal oulik wees om hul “wit kierie” meer sigbaar te maak en plak dan self rooi op. Hoe sal ons nou weet wat is wat?

Dit bring ons weer na die beginsel van bewusmaking. Bewusmaking is om die algemene publiek bewus te maak van iets waaraan hulle in die algemeen nie sal dink nie, en “bewusmaking” gee ’n presiese betekenis aan die woord.

By die onlangse Wêreldfederasie van DoofBlindes, wat in Nairobi, Kenia, gehou is en waar Suid-Afrika ook verteenwoordig was, is ’n resolusie geneem dat die “rooi-en-wit kierie” internasionaal aanvaar word as simbool dat die gebruiker daarvan doof sowel as blind is. Dit word nou deur die International Disability Alliance (IDA) as sodanig erken.

Al meer bewusmaking sal gedoen moet word. Let ook daarop dat iemand DoofBlind is as hy/sy meervoudig sensories gestrem is, en dit beteken nie dat so iemand heeltemal doof en blind moet wees om as sodanig geklassifiseer te word nie. Die kombinasie van sensoriese verlies kan van mens tot mens verskil, maar steeds het elke individu sy/haar unieke uitdaging om die verlies van sig en gehoor te bowe te kom. Daarom is dit belangrik dat die benadering tot elke mens nie standaard gedefinieer kan word nie.

Ek het die afgelope Sondag ’n tannie van 88 jaar ontmoet wat heeltemal doof en blind is, en dit tref my hoe rustig sy voorkom. Al wat vir haar saakmaak, is haar kinders en kleinkinders. Nou ja, wat meer maak saak as hulle vir wie jy lief is en van wie jy onvoorwaardelike liefde ontvang?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article