Vlakkiekrieket-geskiedenis is die afgelope Sondag (29 Mei) gemaak toe die Royal Strikers van George Roodewal besoek het.
Toeskouers is Saterdag en Sondag in koue weer op skitterende krieket getrakteer.
’n Gekombineerde Roodewal-elftal het Saterdag op Dynamopark teen Strikers kragte gemeet terwyl ’n sterk wind boulwerk erg bemoeilik het, maar die kolwers het lekker in dié toestande baljaar.
Keenan Daniels (Quickies) en Fabian Arries (Leopards) het verwoesting met die kolf gesaai en ’n 160-lopie-vennootskap om die eerste paaltjie aangeteken. Linford Crotz was al bouler van Strikers wat hond haaraf kon maak met 46 vir 3 paaltjies in sy vier boulbeurte.
Roodewal het die wedstryd met 124 lopies gewen.
Sondag het Strikers die loot gewen om eerste te gaan kolf en 68 lopies in sy 15 boulbeurte aangeteken.
Daniels en Arries het weer nie op hulle laat wag nie en 48 om die eerste paaltjie aangeteken, waarna Daniels op dramatiese wyse deur Hanno Jacobs van Strikers uitgehardloop is.
Noah Goliath (Leopards) het toe by sy spanmaat ingeval en die wenlopies aangeteken, wat aan Roodewal ’n negepaaltjie-oorwinning besorg het.
Dié twee spanne sal in Oktober weer kragte meet wanneer Roodewal in George gaan toer.. Die organiseerders bedank alle rolspelers wat hulp met die naweek aangebied het.





