Inwoners van Roodewal probeer steeds sin maak van die sinnelose tonele van geweld wat verlede naweek in die buurt afgespeel het.
Dit kom nadat twee moorde en een poging tot moord binne ure van mekaar plaasgevind het.
Volgens AO Vatishwa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, het die onderskeie voorvalle Sondagaand en Maandagoggend voorgekom.
Jacobs sê die polisie is Sondag (20 Februarie) om 22:29 na ’n misdaadtoneel aan die agterkant van die I-blok-woonstelle in Roodewal ontbied, waar hulle op ’n slagoffer met ’n steekwond afgekom het.
“Met hul aankoms het hulle ook ’n man gevind wat voor ’n hok aan die agterkant van die I-blok-woonstel gelê het. Hy was reeds dood.
“Die oorledene het ’n steekwond aan die regterkant van sy nek gehad. ’n Ambulans is ontbied en die oorledene is op die toneel dood verklaar,” sê Jacobs.
Volgens Jacobs is die motief vir die moord in hierdie stadium onbekend.
In die tweede voorval is die polisie Maandag om 02:32 ontbied – slegs ure ná die steekvoorval.
Die slagoffer het na bewering saam met sy vriendin voor ’n woonstel in die Z-blok in Roodewal gestaan. Hulle was op die punt om die deur oop te maak toe ’n verdagte met ’n swart kappie en bruin broek verskyn het.
“Die verdagte het die slagoffer met ’n vuurwapen in die kop geskiet en hy is op die toneel dood,” sê Jacobs.
Die derde voorval was slegs drie ure ná die tweede voorval. Hierdie keer is die polisie omstreeks 05:45 na Roodestraat ontbied, waar hulle op ’n toneel afgekom het waar ’n vrou in haar wendyhuis geskiet is.
Volgens Jacobs het die slagoffer in ’n plas bloed gelê toe die polisie daar aankom.
Sy het ’n skietwond in die regteronderbeen en drie skietwonde in die linkeronderbeen gehad.
Volgens die slagoffer het sy geslaap toe ’n onbekende man by die hok ingebreek en skote afgevuur het.
Die slagoffer is hospitaal toe geneem en die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.
Niemand is nog vir enige van die drie voorvalle in hegtenis geneem nie.
Die gemeenskap van Roodewal het Dinsdag (23 Februarie) ’n imbizo met die polisie gehou om die toenemende misdaad die hoof te bied.
Standard sal volgende week volledig oor die imbizo berig.


