MONTAGU – Die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbeker-ligakompetisie in die Breë-Langebergstreek het die afgelope Saterdag (7 September) so te sê ten einde geloop.
Slegs twee wedstryde moet nog gespeel word.
Young Hamiltons teen Bonnievale Blue Birds en Montagu Klub teen Swellendam – dit is die spanne wat eerskomende Saterdag (14 September) nog hul ligaverpligtinge moet afhandel.
Robertson Town se laaste kragmeting teen Villagers Montagu (Sesduim) het nie plaasgevind nie. Sesduim het die wedstryd ná ’n bestuursbesluit prysgegee. Town het in die Breë-Langebergafdeling in die topposisie geëindig en is die opeenvolgende Breë-Langebergstreekwenner in die Grootuitdaagbekerafdeling nadat hy verlede jaar (2023) ook as die streekkampioen aangewys is.
Montagu Klub se voorlaaste ligawedstryd teen Bonnievale United het opwindende hardlooprugby opgelewer.
Nie minder nie as 13 drieë is tydens dié kragmeting, wat op die King Edward-sportterrein in Montagu gespeel is, gedruk. Die tuisspan het agt drieë aangeteken, terwyl die besoekers vyf keer agter sy gasheer se doellyn gaan kuier het.
Hoewel die skrif vir die besoekers reeds in die eerste helfte aan die muur was, het Bonnievale nooit gaan lê nie.
Montagu het sy stempel op die wedstryd in die eerste helfte afgedruk deur vyf drieë teenoor Bonnievale se twee te druk en was met rustyd gerieflik met 33-14 voor.
Montagu het ná rustyd nog drie keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier. Trouens, die tuisspan se agterlyn was kookwater. Die binnesenter, Mac-John Daniëls (3), die heelagter, Charlton Scholtz (3) en die linkervleuel, Devandré Arendorf (2) het die drieë ingeryg.
Bonnievale United staar die relegasiespook in die gesig en het in die tweede helfte verbete teruggeveg en nog drie drieë gedruk. Dit was egter tevergeefs – die oormag was net te groot.
Bonnievale is met die kous oor die kop huiswaarts gestuur nadat Montagu die kragmeting met 48-33 beklink het.




