Die tweede ronde van die Sanlam- Boland-Top-12 het gewis die tafel gedek vir ’n opwindende en geskiedkundige dag in Suid-Afrikaanse rugby. Die dag was – soos belowe – propvol drama, intrige en opwinding, en ’n paar spanne het reeds die pas aangegee in die aanloop na die halfeindronde.
Young Hamiltons RVK het verlede Saterdag vriend en vyand verras toe hy verlede jaar se finalis en naaswenner van die Boland-Grootuitdaagbeker, Bella Vista, op ’n volgepakte Hammiespark met 26-17 geklop en sonder enige punte huis toe gestuur het. Bella Vista, wat met ’n swaar pak voorspelers met sy agsteman, Keagan Lintnaar, in Worcester opgedaag het en voorlangs wou oorheers, het hom telkemale teen rotsvaste verdediging van veral die kaptein, Philbrey Joseph, (oopkantflank) vasgeloop. Agterlangs was Luciano Elias (skrumskakel) en Luciano Truter (heelagter) die Ceres-manne se doodsteek, met die vleuels Ettinique Adams en Claudio Matolla, wat dodelik op die aanval asook meedoënloos op verdediging was.
Bella Vista se uitblinkers agterlangs was Keanan Wessels (losskakel) en John Lee Skippers (senter), wat ook ’n pragdrie teen die einde gedruk het.
Die wedstryd was een vir die boeke met al twee spanne wat die reuseskare vir 80 minute op hul tone gehou het.
Hammies, daarenteen, kon hulself ongelukkig ag omdat twee drieë nie toegeken is nie.
In die eerste voorval is Ettinique Adams op pad doellyn toe – met geen verdediger voor hom nie – deur ’n speler wat noodhulp ontvang, gelak. Die skeidsregter het verduidelik dat die speler deel van spel was en dus nie onkant was nie. Luciano Elias (skrumskakel) is ook ná ’n stukkie individuele briljantheid in die hoekie oor, maar die grensregter het beslis dat hy uitgetrap het, terwyl die skeidsregter seker was dat hy gedruk het. Die kykweer het duidelik getoon dat Elias geensins uitgetrap het nie.
Vir Hammies het Luciano Truter 21 punte aangeteken, wat ’n drie, twee doelskoppe en vier strafskoppe ingesluit het. Luciano Elias is as Speler van die Wedstryd aangewys vir sy skitterspel.
Saterdag reis Hammies na Grabouw om Safcol te pak. Ondersteuners moet plek op die bus bespreek deur hul name by Mariaan Cupido by Sohngelaan 97 in te handig. Die bus vir ondersteuners vertrek om 10:00 vanaf Esselen Tavern.
Die verdedigende kampioen – Saldanhabaai – het sy tweede agtereenvolgende wedstryd verloor toe Darling hom in Saldanha 38-41 geklop het. Die kampioen het van ’n 0-34-agterstand goed teruggeveg, maar kon teen die einde nie die knoop deurhaak nie.
Saldanha gaan nou al sy oorblywende wedstryde moet wen en hoop ander uitslae is in sy guns om sy titel suksesvol te kan verdedig.
In Clanwilliam was dit eenrigtingverkeer toe die besoekers, Safcol United van Grabouw, die tuisspan, Delicious NW, met 27-56 bloedneus gegee het.
Die besoekers het ses drieë ingeryg en daarmee sy eerste bonuspunt-oorwinning gekry in ’n wedstryd wat in sterk kontras met verlede week se reënerige toestande gespeel is. Die sege beteken Safcol is nou in die eerste posisie op die Poel B-punteleer.
Wesbank het sy eerste oorwinning in vanjaar se Sanlam-Boland-Top-12 behaal toe hy op sy tuisveld in Malmesbury vir Mamre met 34-23 verslaan het. Mamre het die tweede keer verloor. Die Weskus-kampioen vind dinge moeilik en het nog geen ligapunte om te wys nie.
Robertson Town het sy sege verlede naweek opgevolg met ’n tweede indrukwekkende oorwinning hierdie naweek toe hy Roses United in Wellington naelskraaps met 32-30 gewen het. Die besoekers kan nou as een van die toernooi se gunstelinge beskou word.
Eagles van Vanrhynsdorp het dinge in Hawston moeilik gevind en met 34-17 vasgeval. Die oorwinning het nou verseker dat Hawston die boonste posisie in Poel A beklee.
Die drama en intensiteit duur volgende week voort en dit beloof baie vuurwerke, met ’n paar spanne wat veg vir oorlewing. Wedstryde word regstreeks uitgesaai op www.bolandrugby.co.za


