ROBERTSON. – Robertson RVK, alombekend as Robertson Town, het sy posisie bo-aan die Breë-Langebergstreek se Grootuitdaagbeker-punteleer verstewig toe hy Montagu Klub die afgelope Saterdag (10 Augustus) op die Van Zylstraat-sportterrein met 24-19 ore aangesit het.
Met rustyd was Town met die telling op 14-12 slegs ’n kortkop voor in dié klipharde Grootuitdaagbeker-kragmeting wat in winderige toestande gespeel is.
Montagu het die tuisspan ietwat geskok toe hy reeds in die tweede minuut ná die begin van die wedstryd die eerste drie van die kragmeting gedruk het.
Die besoekers se haastige linkervleuel, Devandré Arendorf, het ’n skop opgevolg en gaan druk om sy span vroeg met 5-0 te laat voorloop.
Die doelskop was egter mis.
Minute later het Montagu sy buitesenter, Mac-John Daniëls, vir tien minute verloor toe dié weens ’n gevaarlike duikslag deur die skeidsregter ’n geelkaart weggewys is.
In die 12de minuut het Town sy rekening geopen toe Lindsay (Grimmie) Eksteen – nadat sy span vroeër ’n aanvallende lynstaan in Montagu se kwartgebied verloor het – gedruk het. Colin Willemse (losskakel) het seker gemaak van die doelskop om aan die tuisspan die voortou met 7-5 te besorg.
Nie lank hierna nie het die einste Willemse Montagu se verdediging met ’n vlymskerp breekslag aan flarde geskeur en onder die doelpale afgerond. Hy het boonop sy eie drie verdoel en die telling na 14-5 opgestoot.
Montagu het egter op die halfuur-merk teruggeslaan toe sy binnesenter, Gerswin Alberts, Town se verdediging oorhoops gehad en ná ’n praglopie gaan druk het.
Charlton Scholtz se doelskop was tussen die pale deur om die rustydtelling op 14-12 te staan te bring, met die tuisspan steeds net-net voor.
Slegs ’n paar minute nadat die spanne kante geruil het, het Montagu weer die voortou geneem toe Eric Mandongwe (flank) gaan druk en Scholtz met die doelskop geslaag het om die telling 19-14 te maak.
Kort hierna is Montagu se span egter weer ontwrig toe hy sy tweede geelkaart gewys is.
Hierdie keer was dit die kaptein, Elzano Khana, wat tien minute weens ’n gevaarlike hoogvat op die strafstoel moes deurbring.
Town het hierna verwoed aangeval en ná volgehoue druk op die besoekers se doellyn het sy skrumskakel, Isaiah Davids, oorgeduik om die telling 19-19 gelyk te maak.
Montagu het nooit gaan lê nie en hoewel die lastige wind sake vir beide spanne bemoeilik het, was dit veral Montagu wat in die eerste helfte gesukkel het met sy skoppe kantlyn toe.
Talle van sy lynskoppe het nie die kantlyn gehaal nie en dit het aanvalsgeleenthede vir die tuisspan geskep.
Town het later, ná nog ’n verwoede aanslag, ’n onverdoelde drie deur die plaasvervanger-stut weer die leisels oorgeneem, met die telling wat tot 24-19 gegroei het.
Die besoekers, wat nog Top-12-aspirasies gehad het, het teen die einde van die wedstryd meedoënloos aangeval en ontsaglike druk op die tuisspan uitgeoefen, maar die verdedigende Breë-Langebergkampioen het sy doellyn soos tiere verdedig en uiteindelik as oorwinnaar uit dié titaniese stryd getree.





