Worcester Sekondêre Skool (WSS) het die afgelope naweek die produksie Die Roadtrip, met Brendon Daniels en Waldemar Schultz in die hoofrolle, na Kleinteater gebring.
’n Puik voorprogram deur WSS se dramaleerders met ’n gedig en monoloë is ook gelewer. Bradley de Koker, ’n oudleerder van die skool, het die monoloog Miempie gelewer, terwyl Juandre Flink, ’n gr. 12-dramaleerder, ook ’n monoloog gelewer het. Berniehl Wildskut, ook ’n gr. 12-dramaleerder, het haar eie gedig getiteld Unknown Words opgevoer.
In Die Roadtrip is die hoofkarakters Jaco en Belarus op die pad. Die plan is ’n sloertoer van suid na noord om ’n bietjie van alles af weg te kom.
Wederhelftes, kinders, troeteldiere en werk is agtergelaat om soos van ouds die vryheid van die oop pad te geniet –sonder verpligtinge, sorge en skuldgevoelens. Alles is egter nie so maklik nie, want die lewe is nie meer so eenvoudig soos 20 jaar gelede nie.
Dinge rafel vinnig uit namate die twee hul verdwene jeug probeer herwin – met skreeusnaakse gevolge. Geheime word ontbloot en ’n verrassing wag in die bagasiebak toe die teëspoed hulle in die middel van nêrens tref.
Die produksie was ook vroeër vanjaar by die KKNK en die Woordfees te sien.
’n Drama-onderwyser van die skool, Natasha Africa, sê sy en Brendon hanteer ’n projek om produksies van buite na Worcester te bring om sodoende die dorp aan akteurs bekend te stel en blootstelling te gee aan plaaslike dramastudente.
Vir later vanjaar, in Augustus, beplan hulle weer ’n aand met ander bekende akteurs.
Hou Standard dop vir inligting.




