Chantélle Hartebeest
Die feesvieringe rondom Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal in Suid-Afrika het hierdie week in die Paarl begin.
Afrikaans is vandag (8 Mei) 100 jaar gelede as ‘n amptelike taal in die land erken. Ter viering van die mylpaal het die Solidariteit-beweging reuseletters, wat Afrikaans uitspel, kunstig versier, op ‘n vragmotor gelaai en van Pretoria tot in die Paarl daarmee gereis.
“Ons as ‘n organisasie wat in die noorde van die land is, wou graag deel van die feesvieringe in die suide wees,” verduidelik Carien Bloem, hoof van onderwysprojekte by AfriForum en die projekleier van die Afrikaans Amptelik 100-lettertoer.
“Ons het nie geweet hoe ons dit gaan doen nie, maar ons wou iets doen wat visueel aantreklik is en mooi en sigbaar is; wat vir mense kan wys wat alles al in Afrikaans uit die noorde van die land gedoen is en gedoen word. Dis toe ons besluit het om die reuseletters te maak. Die Solidariteit-beweging het agt verskillende instellings, wat elkeen ‘n letter gekry het, asook die Afrikaans Amptelik 100 se oorsigkomitee. Hulle het toe elkeen hul kreatiwiteit ingespan en alles wat hulle doen, met illustrasies en woorde uitgebeeld.
“Dit is nou ‘n gesamentlike poging uit die Solidariteit-beweging, maar ek het met die idee vorendag gekom en dit toe voorgestel. Ek was baie dankbaar dat almal ingestem het dat ons dit wel doen en dit het nou toe so gebeur dat ek die projek van daar af verder gekoördineer het.”
Verskeie instellings werk saam
Die instellings sluit in AfriForum, Solidariteit, Maroela Media, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Sol-Tech, Akademia, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Helpende Hand.
Verlede week het die Afrikaans Amptelik 100-span saam met die reuseletters in die pad geval en 1 400 km afgelê. Met hul reis na die Afrikaanse Taalmonument het hulle by ‘n paar plekke aangedoen – Kroonstad, Bloemfontein, oornag in Gariep en toe Beaufort-Wes en Laingsburg. Die span was ongeveer 16 ure aan die ry op die pad.
“Die rede hiervoor is dat ons nie met die vragmotor baie vinnig kon ry nie en dit was by tye senutergend, want ‘n mens is altyd bang iets gebeur, soos ‘n letter val dalk om of skuif rond. Ons is regtigwaar baie dankbaar en geseënd dat ons veilig hier aangekom het en dat die letters nog in een stuk is,” sê Bloem. “Dit was baie lekker om die plaaslike gemeenskappe te sien [waar ons gestop het] en wat ons kom ondersteun het, foto’s geneem en verjaarsdagboodskappe gebring het. Om net te sien hoe opgewonde almal is oor Afrikaans as ons taal, was dit lekker om daarvan te getuig. Die reuseletters staan nou hier by die Taalmonument en is gereed om saam fees te vier. Die vieringe begin Donderdag 8 Mei en Saterdag (10 Mei) is hier ‘n lekker groot makietie by die Taalmonument. Mense is welkom om na die letters te kom kyk en foto’s te neem. Dit staan tot Sondag (11 Mei) hier en die volgende dag gaan dit terug Pretoria toe vir die feesvieringe in die noorde.”
• Mense word genooi om foto’s te kom neem en dit op sosiale media te deel voordat dit teruggaan Pretoria toe.






