Ná 14 jaar kan die gemeenskap van Rawsonville weer eersdaags uit Opskeploer in Goudini begin kook.
Hierdie unieke resepteboek is die heel eerste keer in die 1980’s gepubliseer.
“Die boek bevat resepte van baie van die dorp se bekende families, soos die Van der Merwes van Merwida, die Le Roux’s van Kirabo en die Deetlefs van Deetlefs-kelder, om net ’n paar te noem. Die resepteboek is die eerste keer in 1982 gepubliseer,” sê Monique Lategan.
Sy is die hoof van die Kleinspan-skooltjie in Rawsonville en werk al twee jaar aan die jongste uitgawe van hierdie boek.
“Die resepteboek is in die 1980’s deur die skool saamgestel. Ek werk nou al amper vier jaar by die skool en mense het gedurig agter die boek aan gebel – selfs uit Namibië. Ek het geen idee gehad waarvan hulle praat nie, totdat ek ’n bietjie navorsing gedoen het. Dis toe ek besluit het ons moet weer ’n paar kopieë van die boek laat druk,” vertel Lategan.
Al die resepte in die boek moes oorgetik word, want niemand het ’n digitale kopie daarvan gehad nie.
“Hoewel die boek weer in 1994 en 2010 gepubliseer is, het niemand ’n digitale kopie gehad nie. Ek het die resepte dus maar tussen werk en ander goed deur oorgetik. Daar is ook nuwe resepte in die boek. Nuwe resepte is in 2010 bygevoeg, asook hierdie jaar. Die boek het nou omtrent 400 resepte.”
Lategan beskryf die boek as ’n regte “outydse boere-resepteboek” met ’n groot verskeidenhied resepte – van voorgeregte, slaaisouse, koeke en quiches.
Die opbrengs van die boek word in die skool se rekening betaal en vir die kool se benodigdhede gebruik.
Lategan sê die skool sal binnekort ’n bekendstellingsgeleentheid vir die boek hou.
Die resepteboek sal tot 15 Maart teen R225 beskikbaar wees. Daarna sal dit R250 kos.
. Stuur ’n e-pos-navraag na opskeploeringoudini@gmail.com om Opskeploer in Goudini vooraf te bestel.





