’n Trein het op Maandagaand (12 Desember) omstreeks 23:00 net buite Worcester ontspoor en getuimel nadat die spoornetwerk skade gely het weens die hewige stormreën.
Standard is Maandagaand laat van die voorval naby Kanetvlei tussen Worcester en De Doorns ingelig en het toe na die toneel gehaas. Owerhede soos die polisie, verkeer en brandweer was reeds op die toneel.
Die Hazmat-span is ook ingeroep om hulp omdat sowat 4000 l diesel begin lek het ná die ongeluk.
“Hazmat is op die toneel om te verseker dat alle protokol gevolg word en die situasie hanteer word.
“Ons kan bevestig dat ’n trein wel ontspoor het en dat owerhede alles in hul vermoë doen om die situasie te beredder.
“Twee mense is van die trein gered, maar is ongedeerd ná die voorval,” het ’n verklaring van Transnet gelui.
Michael Davids het aan Standard gesê die ongeluk het heel moontlik plaasgevind omdat infrastruktuur aan die spoorlyn beskadig is weens die groot hoeveelheid reën wat in die gebied geval het.
Inwoners was bekommerd oor die feit dat die diesel in ’n nabye rivier se stroom mag beland.
Die Breedevallei-munisipaliteit se departement van water en sanitasie het egter aan Standard die situasie bevestig en verduidelik dat die rivier ’n hele paar meter van die wrak vloei.
“Die spanne is hard aan die werk om die situasie te bekamp en sal ook beskikbaar wees om die nodige aandag te gee tot dat die wrak verwyder is. Die rivier vloei baie sterk en as diesel daar sou beland, sou dit aan klippe vaskleef. Dit hou geen gevaar in vir drinkwater of water oor die algemeen nie.”
Hulle het verder verduidelik dat daardie rivier se water na die Worcester-dam vloei en dat daardie water vir besproeiing gebruik word. Die oortollige water wat oorloop word na ander dele werk gepomp en gesuiwer.





