Inwoners word gemaan om veilig te bly met voorspellings van verskeie kouefronte wat op pad is.Foto: Foto24 argief


Hou maar die komberse naby en bly veilig want ’n reeks kouefronte gaan na verwagting die Wes-Kaap teister oor die volgende paar dae.

Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, het vandag aangekondig dat die Wes-Kaap hierdie naweek ‘n reeks kouefronte met ongunstige weerstoestande kan verwag, wat sal voortduur vir die meeste van volgende week.

Die Provinsiale Rampbestuursentrum (PRB) is vanoggend deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ingelig oor die naderende weerstelsels.

Die volgende weerwaarskuwings is deur SAWD uitgereik:

– ‘n Vlak 4 waarskuwing vir swaar reën en moontlike oorstromings oor die westelike dele van die Wes-Kaap op Sondag.

– ‘n Vlak 6 waarskuwing vir hoë winde tussen 80 en 90km/h oor die westelike en suidwestelike dele van die Wes-Kaap op Sondag.

– ‘n Vlak 4 waarskuwing vir winde tussen 50 en 70km/h vir die Namakwa-distrik sowel as die sentrale en oostelike dele van die Wes-Kaap.

– ‘n Vlak 6 waarskuwing vir golwe tussen 6 en 8 meter langs die kuslyn tussen Alexanderbaai en Kaap Agulhas vanaf Sondag, wat teen die middag na Plettenbergbaai versprei.

– ‘n Vlak 4 waarskuwing vir ontwrigtende sneeuval oor die berge van die Wes-Kaap sowel as die suidelike hoë grond van die Namakwa-distrik op Sondag.

Minister Bredell het gesê die PRB is gereed, en die verskillende munisipale distriksrampbestuursentrums is gereed om geaktiveer te word indien nodig.

“Nood-, reddings- en maatskaplike dienste is voorbereid om op enige eventualiteite te reageer. Provinsiale departemente is verteenwoordig by die PRB en sal gereed wees om ondersteuning te bied indien nodig.”

Die Departement van Water en Sanitasie het gesê dat opvanggebiede en damvlakke noukeurig gemonitor word en gereelde opdaterings sal aan die PRB gemaak word soos die weerstelsels ontwikkel.

Inwoners word aangeraai om warm en veilig te bly.

“Met die einde van die skoolvakansie mag baie mense op die pad wees met hul terugkeer huistoe. Ons vra inwoners om asseblief uiters versigtig op die paaie te wees. Weens die kombinasie van hoë winde, swaar reën en sneeuval oor hoë berge wat verwag word, dring ons daarop aan dat inwoners hul reis- en buitelugaktiwiteite volgende week heroorweeg en onnodige reis vermy. Sterk winde, gekombineer met deurweekte grond, verhoog die risiko’s vir bome en hoë strukture om om te val,” het Minister Bredell gewaarsku.

Verskeie regeringsdienste mag deur die slegte weer geraak word en inwoners word gevra om asseblief ingelig te bly deur die nuutste weerberigte te monitor deur betroubare plaaslike nuusplatforms, radio-waarskuwings, en die sosialemediabladsye van hul plaaslike munisipaliteit.

“Dienste word ook geaktiveer om kwesbare mense en diegene wat deur die slegte weer geraak word te ondersteun,” het die minister afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article