Die raadslid Naomi Roelofse-Nel het Sondag haar lyf met groot sukses akteur gehou.


Die raadslid Naomi Roelofse-Nel, die komiteelid belas met gemeenskapsontwikkeling in die Breedevallei-munisipaliteit, het met haar vertolking van Tietie Giegie in die komedie Tietie Giegie het ’n storie te vertel die groot en waarderende gehoor wat Sondagmiddag die Worcester-stadsaal volgepak het, behoorlik laat skater met haar vertolking van die nimlike dog allesoorheersende Tietie Giegie.

Verskeie hooggeplaastes, onder wie die Breedevallei-burgemeester, Antoinette Steyn, asook verskeie borge het dié vertoning bygewoon.

By dieselfde geleentheid is erkenning gegee aan Worcester se eie Restless Children, wat veral in die jare 70 as poporkes groot roem vir Worcester gebring en bekendheid oor Suid-Afrika heen verwerf en selfs oorsee erkenning geniet het. Twee van die oorblywende orkeslede, Deon Kleinhans en Greg Smith, het self rolle in Tietie Giegie vertolk en ook verskeie sangitems gelewer, terwyl die bekende Neil Pietersen met sy vertolking van Yunus Barber in Le Sueurstraat, of Kantienstraat, soos dit destyds bekend gestaan het, ook groot waardering onder die gehoor gelok het.

Die ander twee oorblywende lede van die destydse gewilde orkes, Kalla Apollis en Floris (Boeta) Brown, was deel van die gehoor wat dit alles meegemaak het.

Die program is verder aangevul deur die Kaapse vermaaklikheidster Fuad Richards en sy ewe talentvolle kunstenaar-kinders (twee dogters en drie seuns) wat nie net deel was van die speelgroep nie, maar ook met hul weergawes van bekende minnesang van veral weleer, groot byval gevind het – voorwaar ’n duidelike bewys dat Worcester oor grense heen gewis oor ’n magdom talentvolle kunstenaars beskik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article