Die raadsliddr. Julian Kritzinger het sy tweede doktorsgraad in Desember ontvang. Foto:


Toe hy in 2001 matrikuleer het, het hy vir homself die persoonlike doelwit gestel dat hy graag ’n dubbel-meester en dubbel-doktor in die regte wou word.

Die raadslid dr. Julian Kritzinger het dié doelwit in Desember verlede jaar behaal.

“My eerste LLM was in internasionale saketransaksies en ek het dit in 2012 by die Universiteit Stellenbosch (US) behaal. My minitesis was in bankreg en getiteld ‘The Fraud Exception on the Autonomy Principle of Letters of Credit: A Legal Evaluation of Recent Occurrences’.

“My tweede LLM was met spesialisering in gevorderde maatskappyereg en ek het dit ook aan die US behaal. My minitesis was getiteld ‘Corporate Distributions in terms of the South African Companies Act 71 of 2008, Article 46’.

“My eerste doktorsgraad het ek in 2017 in handelsreg by die Universiteit van Kaapstad (UK) ontvang vir ’n tesis in aanlyn internasionale arbitrasiereg. Hierdie tesis was getiteld ‘Commercial Arbitration in Cyberspace: The Legal and Technical Requirements Towards a More Effective Lex Electronica Arbitralis’. In kort het hierdie tesis gehandel oor hoe die Suid-Afrikaanse arbitrasiereg sal moet aanpas sodat arbitrasiegeskille meer doeltreffend oor die internet kan plaasvind. Hierdie tesis was spesiaal in die sin dat dit Suid-Afrika se eerste arbitrasieregtesis was wat oor hoe arbitrasiegeskille oor die internet hanteer kan word, handel.”

Hy het toe in 2018 vir ’n tweede doktorsgraad by die UK ingeskryf – dié keer in gevorderde maatskappyreg.

“My tesis is getitled ‘Protecting South African Companies Against Cybercrime: A Critical Analysis of the Directors’ Duty of Care in Relation to Cybersecurity and the Use of Artificial Intelligence to Protect Companies’ Online Meetings’.

“Hierdie tesis is spesiaal in die sin dat dit Suid-Afrika se eerste maatskappyereg-tesis is oor hoe Kunsmatige Intelligensie (KI) binne die Suid-Afrikaanse maatskappyereg hanteer moet word en hoe direkteure ’n sorgsaamheidsplig het om hul maatskappye se kubersekuriteit met KI te verskerp.”

Die dekaan van die UK se regsdepartement het ook verduidelik dat die kwalifikasie van ’n dubbel-doktorsgraad in die regte ’n besondere skaars akademiese verskynsel is en dat hy nie bewus is van enige ander student wat tans oor so ’n kwalifikasie beskik nie.

“Hy sê Suid-Afrika se hooggeleerdste regsgeleerde ’n paar jaar gelede was die voormalige rektor van die Universiteit van Zoeloeland, dr. Charles Dlamini SC, wat ’n trippel-doktor in regte was, maar hy is in 2007 oorlede en hy is nie seker wie ná Dlamini se afsterwe tans Suid-Afrika se hooggeleerdste regsgeleerde is nie, maar het bygevoeg hierdie prestasie sou vir een van Suid-Afrika se hooggeleerdste regsgeleerdes nog in aanmerking kon kom.”

Dr. Kritzinger bedank ook graag almal wat hom deurentyd ondersteun het.

“Aangesien hierdie gradeplegtigheid ’n spesiale dag in my lewe is, het ek gedink ek deel sommer hierdie interessante storie met julle, aangesien ons almal daagliks so ’n nou paadjie met mekaar saamloop en aangesien daar so baie van julle is wat saam met my in my vreugde oor hierdie gebeurtenis deel,” sê Kritzinger.

“Ek sê opreg dankie vir almal se bemoediging en ondersteuning deur al die jare en duisende dankies vir elke gelukwensing en handdruk.

“Ek sê dan ook baie dankie vir my ouers wat my deur al die jare so besonders bygestaan en my ongelooflik mooi ondersteun het. Dit is jammer dat my pa in 2018 oorlede is en nie kon sien hoe ek die graad voltooi nie. Dit was vir my egter ’n groot voorreg dat my ma hierdie spesiale aand saam met my kon meemaak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article