Quickies-krieketklub se juniors het verlede Sondag verspot maklik met Orchard-juniors in die Burgemeester-juniortoernooi se eindstryd afgereken.
Orchard is ingestuur nadat hulle die loot verloor het, maar kon slegs 29 lopies in hul vyftien boulbeurte aanteken.
Quickies het die wenlopies binne sewe boulbeurte met slegs twee paaltjies plat bereik en het daarmee hul tweede junior eindstryd agtereenvolgens gewen.
Die fokus verskuif nou na die Breedevallei Gemeenskaps- krieket-assosiasie se junior kampioenskap wat binnekort begin.
In gister se tweederonde- wedstryde het Clovers met Black Leopards afgereken en hul eerste oorwinning behaal nadat hulle verlede week teen Quickies vasgeval het.
Die sterkolwer, Mario Marinus, kon vir die tweede agtereenvolgende wedstryd geen lopies aanteken nie en is van die eerste bal vir nul agter die paaltjies uitgevang.
Clovers het hulle nietemin mooi reggeruk en 128 lopies van hul 20 boulbeurte aangeteken. Leopards het met Edward Mampa aan die spits moedig probeer terugveg, maar is 25 lopies kort almal uitgehaal. Zazon het in nog ’n groep A- wedstryd met Quickies afgereken terwyl Pumas teen View Pros gewen het.
Groep B het oorwinnings vir Rising Stars teen Young Stars verseker met Very Dangerous wat teen Blue Flames gewen het. Pro Eagles in groep B het ook verspot maklik met Orchard United afgereken.
Wedstryde gaan die naweek voort.
Vlakkiekrieketgeesdriftiges kan hul spanne op die verskillende velde ondersteun. Harrwig Lions speel teen Pumas op Greenvalley terwyl ’n derby op Giantspark tussen View Giants en Rising Stars plaasvind. Zazon sal teen Clovers op Zazonpark speel terwyl Black Leopards en Quickies mekaar op Dynamopark pak.
Very Dangerous sal op alle silinders teen ’n begeesterde Pro Eagles op Nuweland moet vuur. Wedstryde begin om 13:30.





