Die pyn by brandstofpompe is sedert gister, Woensdag 7 Mei, effens minder, met brandstofpryse wat gedaal het.
Hierdie is die derde agtereenvolgende maand dat brandstofpryse gedaal het.
Die departement van mineralebronne en energie het ‘n verlaging van 22c per liter in die prys van petrol (beide 93 en 95) sowel as 42c (500 ppm) en 41c (50 ppm) per liter diesel aangekondig.
Hierdie verwikkeling beteken dat 95-oktaan-petrol nou R21,40 per liter in die binneland kos en R20,57 per liter aan die kus.

Diesel kos R18,90 per liter in die binneland en R18,07 per liter aan die kus.
Parrafien se grootmaatprys daal met 31c per liter.
Die prys van brandstof het in April vanjaar ook gedaal – met 58c per liter vir 93-oktaan, 72c per liter vir 95-oktaan en 83,80c en 85,80c per liter vir die twee soorte diesel.
Die prys van gas styg ongelukkig met 46c, wat so voor die winter slegte nuus is.
Die hernuwing van motorlisensies gaan heel moontlik ook styg. Die Wes-Kaapse regering nooi inwoners om voor aanstaande Saterdag (17 Mei) kommentaar te lewer op die beoogde 4,5% verhoging in tariewe. Die nuwe tariewe sal op 1 Augustus vanjaar in werking tree.
Hierdie voorgestelde styging wissel van 3,9% tot 4,8%. Kleiner motors, wat tussen 750 kg en 1 000 kg weeg, sal – indien die verhoging aanvaar word – R408 kos teenoor die vorige bedrag van R390.
Groter voertuie, soos nutsmotors wat tussen 2 000 kg en 2 250 kg weeg, se lisensiekoste styg van R1 104 tot R1 152.
Volgens die provinsiale regering kan die goeie toestand van die provinsie se paaie daaraan toegeskryf word dat hulle die inkomste van motorlisensies gebruik om die paaie in stand te hou en op te knap.
• Stuur e-pos na Robyn.Titus@westerncape.gov.za om kommentaar te lewer op die voorgestelde regulasies.



You must be logged in to post a comment.