Op 1 November is die prys van paspoorte met 50% verhoog weens ’n verlies aan inkomste, volgens die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi.
Nadat die prys van paspoorte hersien is, het binnelandse sake tot die gevolgtrekking gekom dat paspoorte tot drie keer goedkoper vertoon in vergelyking met ander lande, volgens Motsoaledi.
Nóg ’n rede vir hierdie besluit is dat paspoorte tot op hede nie gesubsidieer is nie, maar wel identiteitsdokumente wat die publiek ook benodig wanneer daar gereis word.
Dit is dan ook juis vir dié subsidiëring van identiteitsdokumente dat paspoortpryse verhoog is, verduidelik Motsoaledi.
Standaard-paspoorte kos sedert 2011 R400, maar ingevolge die nuwe regulasies is dit sedert 1 November tot R600 verhoog.
Een van die grootste verhogings is egter die maksimum-paspoorte met 48 bladsye wat nou R1 200 kos – ’n 100%-prysverhoging.
Bemanningssertifikate het vroeër R350 gekos, maar kos nou R600.
Diplomatieke paspoorte, wat vroeër vanjaar gratis was, kos nou ook R600.




