Young Hamiltons-rugbyklub se eerste span was verlede Saterdag slegs ’n skadu van die span wat in sy vriendskaplike wedstryde so goed gevaar het.
Die span is op sy tuisveld deur Protea van De Doorns met 24-21 geklop nadat Protea rustyd 12-11 voor was. Hammies is voorlangs oordonder en het erg by die afskoppe gesukkel om die bal te beheer.
Op die gebied van die lynstane kon die blou span ook nie die mas opkom nie en dit het hom telkemaal op die agtervoet geplaas het.
Hammies het in meer as een geval ’n man oor gehad en kon so gaan druk, maar die besluit van individuele spelers om liewer kontak te vat het die span duur te staan gekom.
Daarbenewens het Terence Ludicks (linkervleuel) van Proteas die tuisspan behoorlik laat bontstaan terwyl die Snygans-tweeling, asook Tertius Noble, hulself deeglik laat geld het.
Hammies se drieë is gedruk deur Selvin White, Euclid Jacobs en die plaasvervanger-linkervleuel Ghanton Ceaser. Luciano Truter het twee drieë verdoel. Vir Protea het die buitesenter Keenan Jacobs, losskakel Teshwin Jacobs asook die Snygans-tweeling elk ’n drie gedruk. Geen drie kon vir Proteas verdoel word nie.
Hammies B wen sy wedstryd met ’n bonuspunt (40-15) terwyl die C-span ook met ’n bonuspunt 26-05 seëvier.
Hammies reis Saterdag na Touwsrivier om Touwpark te pak. Busse vertrek om 11:00 van Esselen Tavern.



