Die Primrose-rugbyklub was Saterdag 17 Februarie weer aan die wenkant toe hy Koo United op die Breërivierveld met 42-10 kafgedraf het.
Dit was weer eens ’n fantastiese dag vir rugby, met United wat die wedstryd begin het. Met die afskop het Primrose onmiddellik oortree, maar United se poging pale toe was onsuksesvol. Primrose het net ná die inskop weer oortree, en hierdie keer was United se korrel beter en hy het die eerste punte aangeteken met die telbord op 3-0.
Primrose het egter sy dissipline reggeruk en op sy rugby begin konsentreer. Kort voor lank het hy ’n strafskop aangeteken. Sy sterk pak voorspelers het goeie grond doellyn toe gewen en onder die pale gedruk. Die verdoelde doelskop het die telling tot 7-3 vir Primrose geneem.
Primrose, wat in volle momentum was, het weer agter die pale gaan druk en met nog ’n suksesvolle doelskop was die telling 14-3 vir Primrose.
Skaars ses minute hierna het die voorlopers sowaar weer gaan druk.
United het egter teruggeveg en ’n drie gedruk, wat die rustydtelling 21-10 vir Primrose gemaak het.
Primrose het die laaste 40 minute weer sterk begin en United moes vir ’n vale keer. Ná nog pragtige samespel het Primrose nog ’n verdoelde drie gedruk om met 28-10 voor te loop.
Nog drieë het vir Primrose gevolg, en toe die eindfluitjie Koo United se bas red, was die telling 42-10 vir Primrose.


